4 “Op ’n dag kom daar toe iemand by die ryk man kuier. Hy was te jammer om een van sy eie skape of beeste te slag en ’n ete vir die kuiergas te kook. Hy vat toe die ooilam van die arm man en maak haar gaar.”
5 Dawid was briesend kwaad vir die man wat so iets kon doen. Hy sê vir Natan: “So waar as die Here leef, die man wat dít gedoen het, moet die doodstraf kry!
6 En daar moet vier van sy lammers gegee word in die plek van daardie een ooilam. Hoe kon die man so iets doen en nie eers jammer voel vir die arm man nie!”
7 “Jý is daardie man!” sê Natan vir hom. “Die Here, die God van Israel, het vir jou hierdie boodskap gestuur. Hy het gesê: ‘Ek het jou koning laat word oor Israel, en Ek is die Een wat jou gehelp het teen Saul.
8 Ek het vir jou alles gegee wat hy gehad het. Ek het vir jou sy harem ook gegee. Ek het vir jou die hele koninkryk van Israel en van Juda gegee. As dit te min was, kon Ek vir jou nog baie sulke dinge daar bygee!
9 Hoekom het jy jou nie gesteur aan wat Ek, die Here, sê nie, en hierdie verskriklike ding gedoen? Jy het Urija, die Hetiet, in die oorlog laat doodmaak en sy vrou vir jou gevat. Ja, jy het hom vermoor met ’n swaard van die Ammoniete!
10 Nou gaan daar altyd moord en doodslag in jou huis wees omdat jy jou nie aan My gesteur het nie en Urija, die Hetiet, se vrou vir jou gevat het!’