11 Die derde een was Samma. Hy was Agee, wat van Harar af gekom het, se seun. Die Filistyne het eenkeer by Legi saamgetrek. Daar was ’n land vol lensies en die manskappe het vir die Filistyne gevlug.
12 Samma het in die middel van die land gaan staan om dit te verdedig en die Filistyne teruggedryf. Die Here het so vir die Israeliete ’n groot slag geslaan.
13 Drie van Dawid se 30 helde het eenkeer in die oestyd na Dawid toe gegaan waar hy in die Adullamgrot was. Die Filistyne se leër het in die Spooklaagte kamp opgeslaan.
14 Dawid het toe in die berg weggekruip omdat die Filistyne ’n afdeling soldate in Betlehem gehad het.
15 Dawid het gesug en gesê: “Ai, ek wens darem iemand kon nou vir my water gee uit die put van Betlehem, daar nes jy in die dorp ingaan.”
16 Die drie heldhaftige mans het toe by al die Filistyne se wagte verbygegaan en water gaan skep uit die put waar jy in Betlehem ingaan. Hulle het dit vir Dawid gevat, maar hy wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here op die grond uitgegooi
17 en gesê: “Ek sal dit nooit drink nie, Here! Dis so goed soos die bloed van dié mans wat hulle lewe gewaag het om dit te gaan haal!” Hy wou dit glad nie drink nie. Dit is hoe dapper daardie drie was.