1 Die name van die leiers van die verskillende groot families in Israel en die hoofde van hulle gesinne wat saam met Jakob na Egipte toe getrek het, was die volgende:
2 Ruben, Simeon, Levi en Juda,
3 Issaskar, Sebulon en Benjamin,
4 Dan en Naftali, Gad en Aser.
5 Josef was reeds in Egipte. Jakob se afstammelinge was 70 altesaam.
6 Die hele groep van Josef en sy broers is met verloop van tyd die een na die ander dood.
7 Die Israeliete het baie kinders gehad en het net al meer geword. Daar was naderhand so baie van hulle dat hulle oor die hele Egipte gaan bly het.
8 In ’n stadium het daar ’n nuwe koning in Egipte gekom. Hy het niks geweet van Josef en alles wat in sy tyd gebeur het nie.
9 Hy het vir die mense onder hom gesê: “Kyk ’n bietjie; die Israeliete is besig om meer as ons te word. Hulle raak ook sterker as ons.
10 Ons sal ’n plan moet uitdink om te keer dat hulle nog meer word. As daar oorlog uitbreek, kan hulle by die vyand aansluit. Hulle kan dan van oral uit die land optrek en teen ons begin veg.”
11 Die farao het toe manne oor die Israeliete aangestel wat hulle gedwing het om die werk te doen wat onbetaalde slawe doen. Die farao, soos die koning van Egipte genoem is, het die Israeliete gebruik om vir hom die twee stede Pitom en Rameses te bou waar hy voorrade kon wegbêre.
12 Die plan het egter geboemerang. Hoe swaarder die farao hulle laat werk het, hoe meer het die Israeliete geword en op al meer plekke gaan bly. Dit het die Egiptenaars net al hoe banger vir die Israeliete laat word.
13 Die Egiptenaars het die Israeliete hardhandig begin behandel
14 en die lewe vir hulle bitter swaar gemaak. Hulle het die Israeliete gedwing om die swaar slawewerk te doen. Hulle moes klei uitgrawe en daarvan bakstene maak, bouklippe kap en op die landerye werk.
15 Die koning van Egipte het Sifra en Pua, die Hebreërs se kraamverpleegsters, probeer dwing om iets leliks te doen.
16 Hy wou hê hulle moes daarvoor sorg dat die seuntjies van die Hebreërs se vroue nie bly lewe nie. Wanneer hulle die vroue help om hulle kinders in die wêreld te bring, moes hulle die seuntjies laat doodgaan. As dit dogtertjies was, kon hulle bly lewe.
17 Omdat hierdie twee verpleegsters respek vir God gehad het, het hulle nie gedoen wat die farao gesê het nie. Hulle het die seuntjies ook laat bly lewe.
18 Die koning het toe die twee vroue laat kom. Hy vra vir hulle: “Nou hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?”
19 Die verpleegsters het die farao geantwoord: “Omdat die Hebreeuse vroue nie so sukkel soos die Egiptiese vroue nie. Teen die tyd dat die verpleegster by hulle kom om hulle te help is die babatjie al klaar gebore en dan kan ons niks daaraan doen nie.”
20 Die Israeliete het op dié manier net al meer en al sterker geword.
21 Die verpleegsters het respek vir God gehad. Daarom was Hy goed vir hulle en het hulle ook kinders laat kry.
22 Die farao het toe al die Egiptenaars beveel om alle pasgebore Israelitiese seuntjies in die Nyl te gooi. Hulle moes die dogtertjies egter laat bly lewe.