1 Die Here het vir Moses gesê: “Jy en jou volk wat jy uit Egipte gelei het, moet nou maar verder trek na die land wat Ek vir Abraham, Isak en Jakob beloof het. Ek het hulle immers belowe dat Ek die land vir hulle nakomelinge sal gee.
2 Ek sal my hemelse boodskapper stuur om jou na dié vrugbare land te lei. Hy sal die Kanaäniete, Amoriete, Hetiete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete wat daar bly, uit die land verdryf.
3 Ek self sal nie saam met julle soontoe gaan nie. Hierdie volk volg hulle eie kop. As Ek saam met julle moet gaan, gaan Ek julle net langs die pad vermoor.”
4 Toe die volk hierdie harde woorde van die Here hoor, het hulle baie hartseer geword. Hulle het al die juweliersware afgehaal wat hulle gedra het.
5 Dit was omdat die Here Moses vir hulle laat sê het: “Julle is te eiewys dat Ek dit vir een oomblik met julle sal kan uithou wanneer Ek saam met julle moet gaan. Haal liewer julle juweliersware af dat Ek kan kyk wat Ek met julle wil doen.”
6 Vandat hulle van die Horebberg af weg is, het die Israeliete nooit weer juweliersware gedra nie.
7 Moses het ’n tent ’n hele ent weg van die laer af in die veld opgeslaan. Hy het dit genoem “die tent waar daar vir God raad gevra word”. Elkeen wat by die Here raad gesoek het, het soontoe gegaan.
8 Wanneer Moses na hierdie tent toe gegaan het, het die hele volk by die ingang van hulle tente gaan staan. Hulle het hom agterna gekyk totdat hy in die tent ingegaan het.
9 Sodra Moses in die tent ingegaan het, het die hoë wolk waarin die Here vroeër gedurende die dag voor die volk uitgetrek het, afgesak en oor die ingang van die tent gaan hang. Die Here het dan met Moses gepraat.
10 Wanneer die volk die wolk oor die tent se ingang sien hang, het hulle uitgegaan en by die ingang van hulle tente gekniel en tot die Here gebid.
11 In die tent het die Here met Moses gepraat soos vriende wat met mekaar sit en gesels. Wanneer Moses na die kamp toe teruggekom het, het sy jong helper, Josua die seun van Nun, by die tent agtergebly. Hy het nie daarvandaan af weggegaan nie.
12 Moses het later vir die Here gesê: “U het vir my gesê dat ek die volk van hier af moet laat trek. U sê dan glad nie vir my wie U saam met my sal stuur nie. U het ook vir my gesê dat U my goed ken en dat U van my hou.
13 As dit dan so is, sê asseblief vir my wat u planne is sodat ek kan weet wat U van my wil hê en ek dit kan doen. Hierdie nasie wat ek moet lei, is immers tog u eie volk.”
14 “Moet Ek dan self saamgaan dat jou hart rus kan kry?” vra die Here toe vir Moses.
15 “Asseblief,” sê Moses vir die Here, “as U nie self saamgaan nie, moet U ons glad nie hiervandaan af laat weggaan nie.
16 Waaraan anders sal ons weet of U vir ons omgee of nie? Ons sal dit net weet as U saam met ons gaan. Waaruit anders sal dit duidelik wees dat U anders oor ons voel as oor al die ander volke op aarde?”
17 “Goed,” het die Here vir hom gesê, “Ek sal dan maar saam met julle gaan, soos jy gevra het. Ek sal maak soos jy vra, want Ek ken jou baie goed.”
18 Toe vra Moses: “Kan ek maar asseblief sien hoe U lyk?”
19 Die Here sê toe vir hom: “Ek doen graag iets vir iemand as Ek dit self besluit. Ek bederf graag mense wat Ek ’n guns wil bewys. Ek sal jou wel iets van my grootheid laat sien. Ek sal dat jy my stem hoor wanneer Ek my Naam ‘Here’ voor jou sê.
20 Jy mag egter nie my gesig sien nie. Geen mens sal bly lewe as hy die Here se gesig moet sien nie.
21 Kom, hier is ’n rots waarby jy kan staan.
22 Wanneer Ek met my Goddelike grootheid hier verbygaan, sal Ek jou tussen die rotse laat staan en jou met my hand beskerm totdat Ek verby is.
23 Wanneer Ek verby is en my hand wegvat, sal jy My van agter af kan sien. Niemand mag My egter van voor af sien nie.”