Eksodus 16 DB

Die volk kla oor kos

1 Op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipte weg is, het die Israeliete van Elim af in die Sinwoestyn aangekom. Dit is tussen Elim en Sinai.

2 Daar het hulle by Moses en Aäron oor die min kos kom kla:

3 “Die Here kon ons maar liewer in Egipte laat doodgaan het. Toe ons daar gebly het, was daar ten minste oorgenoeg kos om te eet. Julle het ons hiernatoe gebring om van die honger dood te gaan.”

4 Die Here sê toe vir Moses: “Ek gaan vir julle kos van bo af gee. Die volk moet dit elke dag bymekaarmaak. Dit sal vir My wys of hulle bereid is om te leef soos Ek wil hê.

5 Hulle moet gereedmaak om elke keer op die sesde dag twee keer meer huis toe te bring as wat hulle normaalweg elke dag bymekaarmaak.”

Die Here sal vir hulle kos gee

6-7 “Hoekom kom staan julle by ons en kla?” het Moses en Aäron toe vir die Israeliete gevra. “Julle sal teen môre besef dat dit die Here self is wat julle uit Egipte laat wegtrek het. Hy sal vir julle wys hoe groot Hy is. Hy het gehoor hoe julle oor Hom kla.”

8 Moses het vir hulle gesê: “Dit is eintlik nie oor ons dat julle kla nie. Julle kla oor die Here. Wanneer die Here vir julle vanaand vleis gee om te eet en môreoggend brood dat julle versadig kan word, moet julle besef dat die Here julle hoor kla het en dat Hy dit beskou as ’n aanklag teen Hom.”

9 Moses het vir Aäron gesê om almal bymekaar te maak om voor die Here te kom. Die Here het gehoor hoe hulle oor Hom kla.

10 Terwyl Aäron nog met hulle praat, het hulle in die rigting van die woestyn gekyk. Daar het hulle die Here se grootheid gesien. Dit het gelyk soos ’n helder lig wat binne-in ’n wolk skyn.

Brood en vleis

11 Die Here het weer vir Moses gesê:

12 “Ek het die Israeliete se gekla gehoor. Sê tog vir hulle: ‘Teen vanaand se kant sal julle vleis hê om te eet. Julle sal julle môreoggend versadig eet aan brood. Julle sal dan besef dat Ek, die Here, julle God is wat self vir julle sorg.’”

13 Teen die aand se kant het daar swerms voëltjies aangevlieg gekom. Hulle het op die grond gaan sit, die hele kamp vol. Die volgende oggend het daar reg rondom die kamp dou op die grond gelê.

14 Toe die dou verdamp, het daar op die grond ’n dun lagie vlokkies gelê wat soos ryp gelyk het.

15 Die Israeliete het nie geweet wat dit was nie. Hulle het vir mekaar gevra: “Wat is dit?” Moses sê toe vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

16 Dis hiervan dat die Here gesê het julle soveel bymekaar moet maak as wat elkeen elke dag nodig het. Julle moet elke dag vir elke persoon in julle tent twee kilogram daarvan optel.”

17 Die Israeliete het toe so gemaak. Die een het minder en die ander weer meer daarvan opgetel.

18 Dit was net mooi genoeg vir elke dag. Dié wat baie opgetel het, het nie te veel gehad nie. Daar was ook nie te min vir dié wat minder opgetel het nie. Daar was elke dag net mooi genoeg vir elkeen om te eet.

19 Moses het ook vir hulle gesê: “Julle mag nie iets vir die volgende dag laat oorbly nie.”

20 Daar was ongelukkig mense wat nie na Moses geluister het nie. Hulle het daarvan tot die volgende oggend laat oorbly. Daar het toe goggas in gekom en dit het sleg geruik. Moses het vies geword vir hulle.

21 Hulle het elke oggend vroeg gegaan en bymekaargemaak wat hulle nodig gehad het. Wanneer die son later op die grond begin bak, het alles wat nie opgetel is nie, weggesmelt.

Die sewende dag

22 Op die sesde dag moes hulle dubbel soveel as gewoonlik bymekaarmaak: vier kilogram vir elkeen. Die leiers het vir Moses kom vra of dit reg is.

23 Hy het vir hulle gesê: “Dit is soos die Here gesê het ons moet maak. Môre is die Here se dag waarop ons moet rus. Julle moet reeds vandag gaarmaak wat julle vir môre nodig gaan hê. Bak vandag wat julle wil bak en kook wat julle wil kook. Wat te veel is vir vandag, moet julle regsit om môre op die rusdag te eet.”

24 Hulle het gemaak soos Moses gesê het hulle moet maak. Hulle het dit vir die sewende dag gebêre. Dit het glad nie sleg geword nie. Daar het ook nie goggas in gekom nie.

25 Moses het vir hulle gesê: “Julle kan dit gerus maar vandag eet, want dit is vandag die Here se rusdag. Julle sal nie vandag enigiets in die veld kry om op te tel nie.

26 Julle moet ses dae lank elke dag daarvan gaan optel. Die sewende dag is die Here se rusdag. Julle sal dan niks daar kry nie.”

27 Daar was nogtans mense wat op die sewende dag uitgegaan het om kos bymekaar te gaan maak. Daar was egter niks om op te tel nie.

28 Die Here het toe vir Moses gevra: “Hoe lank gaan julle nog aanhou weier om te doen wat Ek van julle vra?

29 Julle kan mos sien dat Ek van die rusdag onthou en op die sesde dag sorg dat daar genoeg kos is vir die volgende twee dae. Op die rusdag moet elkeen by sy huis bly. Hy moet nie nog op die sewende dag van sy tent af weggaan om kos te gaan soek nie.”

30 So het die volk dan op die sewende dag gerus.

31 Die Israeliete het hierdie brood “manna” (dit beteken “Wat is dit dié?”) genoem. Dit was wit soos koljandersaad en het gesmaak soos iets met heuning in.

Manna word vir die nageslag bewaar

32 Moses het ook gesê: “Die Here het gesê ons moet twee kilogram manna vir die nageslag bewaar. Hulle moet sien watse soort kos die Here vir die Israeliete in die woestyn gegee het om te eet.”

33 Moses het vir Aäron die werk gegee om twee kilogram manna in ’n kleipot te sit. Hy moes dit voor die Here gaan neersit om dit vir die nageslag te bewaar.

34 Soos die Here Moses beveel het, het Aäron dit later in die ark bewaar waarin die bewys van Israel se ooreenkoms met die Here gehou is.

35 Die Israeliete het vir die volgende 40 jaar manna geëet. Dit was hulle kos totdat hulle in Kanaän aangekom het waar hulle kon plant en oes.

36 ’n Kilogram was ’n tiende van die efa-gewigseenheid.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40