1 Die Here het vir Moses gesê:
2 “Sê vir die Israeliete hulle moet wegdraai en kamp gaan opslaan by Pi-Hagirot, tussen Migdol en die see. Dit is regoor Baäl-Sefon naby die see.
3 Die farao sal dan dink dat die Israeliete verdwaal en in die woestyn vasgeval het.
4 Ek gaan die farao weer hardkoppig maak. Hy gaan die Israeliete agternasit. Die farao en sy hele weermag sal uiteindelik voor My moet buig. Egipte sal moet erken dat Ek die Here is.” Die Israeliete het toe so gemaak.
5 Toe die koning van Egipte hoor waarheen die Israeliete op pad is, het hy en sy leiers hulle besluit verander. Hulle het gesê: “Wat op aarde het ons besiel om die Israeliete sommerso te laat wegkom?”
6 Die farao het sy oorlogswa en sy perde laat inspan om hulle met sy troepe agterna te sit.
7 Hy het 600 waens uitgesoek. Op elkeen was daar drie manne.
8 Die Here het die farao kop laat verloor. Hy het soos ’n mal ding agter die Israeliete aan gestorm. Die Here het Israel egter teen die Egiptenaars beskerm.
9 Die Egiptenaars met die farao se oorlogswaens en sy perde en sy hele leërmag is agter die Israeliete aan. Hulle het die Israeliete ingehaal waar hulle by die see kamp opgeslaan het by Pi-Hagirot, regoor Baäl-Sefon.
10 Terwyl die farao al nader kom, het die Israeliete hulle nekke gerek om te sien wat aan die gang is. Toe hulle sien dis die Egiptenaars wat agter hulle aan is, het hulle hulle boeglam geskrik. Hulle het die Here begin soebat om hulle tog te help.
11 Hulle het Moses ook begin verwyt: “Was daar nie genoeg plek in Egipte om ons sommer daar al te begrawe nie? Moes jy ons hier na die woestyn toe bring dat ons hier kan doodgaan en hier begrawe word? Wat het jy met ons aangevang om ons uit Egipte te laat padgee?
12 Het ons nie in Egipte al vir jou gesê nie: ‘Los ons uit, dat ons eerder vir Egipte kan werk’? Dis tog baie beter om slawe in Egipte te wees as om hier in die woestyn dood te gaan!”
13 Moses het egter vir die volk gesê: “Hou op om bang te wees. Staan vas net waar julle is. Julle gaan vandag sien hoe wonderlik die Here julle gaan red. Daardie Egiptenaars wat julle vandag daar voor julle sien, sal julle in der ewigheid nooit weer sien nie.
14 Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg.”
15 Die Here vra toe vir Moses: “Vir wat staan julle so en roep na My om julle te help? Sê vir die Israeliete hulle moet begin beweeg.
16 Lig op jou kierie en steek jou hand uit na die see se kant toe. Die water sal voor julle oopmaak sodat die Israeliete op droë grond deur die see kan loop.
17-18 Ek sal die Egiptenaars vasberade maak om hulle agterna te sit en agter hulle aan te gaan die see in. Wanneer Ek met die farao en sy hele leërmag en sy oorlogswaens en hulle perde klaargespeel het, sal Ek vereer word. Egipte sal moet erken dat Ek die Here is.”
19 Die man uit die hemel wat God voor die Israeliete laat uitgaan het wanneer hulle op pad was, het toe aan hulle agterkant gaan staan. Die wolk in die lug wat voor hulle uitgegaan het, het ook aan hulle agterkant gaan staan.
20 Dit het tussen die Israeliete en die leër van die Egiptenaars ingeskuif. Die wolk het dit in die nag lig gemaak aan Israel se kant en donker aan die Egiptenaars se kant. Dit het die twee groepe uit mekaar gehou sodat hulle nie gedurende die nag nader aan mekaar kon kom nie.
21 Moses het sy hand oor die see uitgesteek. Die Here het dwarsdeur die nag ’n sterk oostewind oor die see laat waai. Die see het weggetrek en die wind het ’n pad van droë grond deur die see drooggewaai.
22 Die Israeliete het op grond wat droog was, deur die see getrek. Die water was soos twee mure aan weerskante van hulle.
23 Die Egiptenaars het hulle toe agternagesit. Hulle is agter hulle aan die see in met hulle perde en hulle oorlogswaens met die manne op.
24 Voor die dag breek, so teen die einde van die nagwaak, het die Here vanuit die bol vuur op die Egiptiese leër afgekyk. Hy het toe gemaak dat daar verwarring onder die Egiptenaars ontstaan het.
25 Hy het hulle strydwaens se wiele so laat vasval in die seesand dat hulle glad nie kon beweeg nie. Die Egiptenaars het vir mekaar begin sê: “Ons moet wegkom van hierdie Israeliete af. Die Here is besig om aan hulle kant teen ons te veg.”
26 Die Here sê toe vir Moses: “Steek weer jou hand oor die see uit. Die waters sal terugstroom oor Egipte, oor sy oorlogswaens en hulle manskappe.”
27 Moses het sy hand oor die see uitgesteek. Teen dagbreek het die see weer begin terugloop na waar dit vroeër was. Die Egiptenaars het voor die water probeer padgee, maar die Here het hulle in die see laat verdrink.
28 Toe die water oor hulle terugvloei, het die oorlogswaens met hulle bemanning en al onder die water verdwyn. Van die hele leër van die farao wat agter die Israeliete aan is die see in, het daar nie ’n enkele een oorgebly nie.
29 Die Israeliete het op droë grond deur daardie see getrek. Vir hulle was die water soos twee mure waartussen jy deurgeloop het.
30 So het die Here daardie dag vir Israel uit die kloue van die Egiptenaars gered. Die Israeliete het die lyke van die Egiptenaars op die strand sien lê.
31 Hulle het gesien hoe die Here met vernietigende krag teen Egipte geveg het. Die volk het baie groot respek vir die Here gekry. Hulle het in die Here geglo. Hulle het ook begin glo dat die Here Moses na hulle toe gestuur het.