1 Moses en Aäron het toe na die farao toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Die Here is die God van Israel. Die Here sê vir jou: ‘Jy moet my volk toelaat om na die woestyn toe te gaan om daar vir My ’n fees te gaan hou.’”
2 Die farao antwoord toe: “En wie is hierdie ‘Here’ altemit dat ek na Hom moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken Hom van geen kant nie. Ek gaan Israel nie toelaat om weg te gaan nie.”
3 Hulle sê toe weer: “Die God van die Hebreërs het met ons gepraat. Gee tog vir ons kans om drie dae lank weg te gaan. Ons wil in die woestyn vir die Here ons God gaan offer. As ons dit nie doen nie, sal Hy ons met siektes en met die dood straf.”
4 Die koning van Egipte het hulle geantwoord: “Moses en Aäron, vir wat hou julle die mense van hulle werk af? Loop, gaan aan met julle werk!
5 Kyk hoe baie mense is julle volk al in die land. Verbeel jou, nou moet hulle nog hulle werk laat staan om te gaan feesvier!”
6 Nog daardie selfde dag het die farao vir die mense gesê wat hy oor die volk aangestel het om hulle die harde werk te laat doen:
7 “Julle moenie langer strooi vir die volk gee om bakstene mee te maak nie. Van nou af moet hulle self strooi gaan soek.
8 Maar hulle moet nog steeds elke dag net soveel stene maak soos tevore. Julle mag nie toelaat dat hulle minder maak nie. Hulle het lui geword. Dis hoekom hulle met hierdie storie kom dat hulle hul God wil gaan aanbid.
9 Maak die werk vir die mense nog moeiliker. Hulle moet te besig wees om nog sulke slimstories uit te dink.”
10 Die manne wat oor hulle aangestel was, het toe vir die volk gaan sê wat die farao besluit het. “Ons gaan nie langer vir julle strooi gee om stene te maak nie.
11 Van nou af sal julle dit self moet loop soek. Dis julle saak waar julle dit in die hande gaan kry. Maar julle moet elke dag nog net soveel stene maak soos julle altyd gemaak het.”
12 Van toe af moes die volk oor die hele Egipte gaan soek waar hulle grasstoppels in die hande kon kry. Hulle moes dit in die plek van strooi gebruik om die stene te maak.
13 Die manne wat oor hulle aangestel was, het dit vir hulle baie moeilik gemaak. Hulle het die volk gedwing om net soveel stene te maak soos voorheen toe hulle die strooi by die Egiptenaars gekry het.
14 Die farao het selfs die manne wat oor hulle aangestel is, laat slaan en hulle beskuldig dat hulle nie sorg dat daar net soveel stene soos altyd gemaak word nie.
15 Hierdie manne het toe by die farao gaan kla: “Hoekom maak u nou so met u werkers?
16 Ons en die mense wat die stene maak, kry nie meer strooi vir die werk nie. Maar u verwag dat ons nog net soveel stene moet maak soos voorheen. Die mense wat oor die werk toesig hou, word selfs geslaan. Intussen lê die skuld by u eie mense.”
17 Hy het vir hulle gesê: “Julle is net lui. Julle wil nie werk nie, en daarom kom julle met hierdie storie van ‘ons wil vir die Here gaan offer’.
18 Gaan loop doen julle werk. Julle sal nie strooi kry nie. Sorg dat julle net soveel stene maak soos altyd.”
19 Die manne wat oor die volk aangestel was, het toe besef dat hulle in ’n groot gemors beland het. Daar was nie ’n manier om daaruit te kom nie. Hulle sou maar moes sorg dat daar elke dag net soveel stene gemaak word soos vantevore.
20 Toe hulle van die farao af weggaan, kry hulle vir Moses en Aäron wat vir hulle gestaan en wag het.
21 Hulle sê toe vir Moses en Aäron: “Die Here sien wat julle aangevang het. Mag Hy julle straf omdat julle ons name so deur die modder gesleep het by die farao en sy mense. Julle het ons nou in hulle hande uitgelewer. Hulle kan met ons maak net wat hulle wil.”
22 Moses het toe na die Here teruggegaan en by Hom gekla: “Ag, Here, hoekom maak U nou so lelik met die volk? Hoekom het U my na die farao toe gestuur?
23 Van die oomblik af dat ek vir hom gaan sê het wat U wil hê hy moet doen, het hy ons volk net al slegter behandel. U het nog niks gedoen om u volk te red nie.”
24 Maar die Here het vir Moses gesê: “Wag ’n bietjie en kyk wat Ek met die farao gaan maak. Ek gaan hom nie net oorreed om my volk te laat trek nie, maar Ek gaan hom selfs so ver kry dat hy hulle uit sy land sal wegjaag.”