Eksodus 17 DB

’n Stryery by Rafidim

1 Die Israeliete het uit die Sinwoestyn weggetrek. Die Here het elke keer vir hulle gewys waarheen hulle moes gaan. So het hulle by Rafidim uitgekom en daar kamp opgeslaan. Daar was egter nie vir hulle water om te drink nie.

2 Die volk het met Moses aan die stry geraak. Hulle wou hê hy moes sorg dat daar genoeg water is vir hulle om te drink. Moses het vir hulle gesê: “Waarom kom staan julle nou met my en rusie maak? Hoekom tart julle die Here so uit?”

3 Die volk het so dors geword dat hulle Moses begin verwyt het: “Jy het ons en ons kinders en ons vee uit Egipte laat wegtrek sodat ons hier in die woestyn van dors kan doodgaan.”

4 Moses het by die Here hulp gaan vra: “Here, wat kan ek met hierdie volk doen? Hulle gaan my met klippe doodgooi.”

5 Die Here sê toe vir hom: “Vat dieselfde kierie waarmee jy op die Nyl geslaan het. Vat ook ’n paar van die leiers van Israel saam met jou. Loop saam met hulle voor die volk uit

6 na die rots waar Ek vir jou staan en wag by Horeb. Slaan met jou kierie op die rots. Daar sal water uit die rots kom vir die volk om te drink.” Terwyl die leiers staan en kyk, het Moses op die rots geslaan. Daar het water uitgekom.

7 Hy het die plek Massá (dit beteken “uittart”) en Meriba (dit beteken “rusie”) gedoop. Die Israeliete het daar met hom rusie gemaak. Hulle het die Here se geduld beproef toe hulle gevra het: “Is die Here nog by ons of het Hy al lankal weggeraak?”

Oorlog teen die Amalekiete

8 Die Amalekiete het by Rafidim teen die Israeliete kom oorlog maak.

9 Moses het vir Josua gesê: “Kies vir jou die manne uit met wie jy teen die Amalekiete kan gaan veg. Ek sal môre bo-op die koppie gaan staan. Ek sal die kierie wat God vir my gegee het in my hand hou.”

10 Josua het die manne gevat en die geveg met die Amalekiete gaan begin. Moses, Aäron en Hur het teen die koppie uitgeklim en bo-op gaan staan.

11 Solank as wat Moses sy hand in die lug gehou het, het Israel die oorhand gehad. Die oomblik as hy sy hand laat sak het om te rus, swaai die geveg om en begin Amalek wen.

12 Moses se hand het naderhand moeg geword. Hulle het hom toe op ’n klip laat sit. Aäron en Hur het weerskante van hom gaan staan en sy hande in die lug gehou. So kon sy hande in die lug bly totdat die son die dag ondergegaan het.

13 Josua het die Amalekiete daardie dag heeltemal verslaan.

14 Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet al hierdie dinge wat gebeur het, in ’n boek neerskryf. Jy moet dit ook vir Josua op die hart druk dat Ek gemaak het dat niemand op aarde ooit weer aan die Amalekiete sal dink nie.”

15 Moses het by daardie plek ’n hoop klippe laat pak as ’n gedenkteken vir hierdie gebeure. Hy het dit genoem: “Die Here is my vlag.”

16 Hy het gesê: “Die Here se vlag moet hoog in die wind waai. Die Here veg elke keer teen die Amalekiete.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40