Eksodus 19 DB

Die Israeliete kom by Sinaiberg aan

1-2 Die Israeliete het van Rafidim af verder getrek. Toe hulle presies drie maande uit Egipte weg was, het hulle in die Sinaiwoestyn aangekom. Hulle het aan die voet van berg Sinai kamp opgeslaan.

3 Moses het teen die berg uitgeklim na God toe. Die Here het bo van die berg af met hom gepraat en vir hom gesê: “Jy moet vir die nageslag van Jakob gaan sê, aan die Israeliete hierdie boodskap oordra:

4 ‘Julle het gesien wat Ek met Egipte gemaak het. Ek het julle veilig hier by hierdie berg laat uitkom. Ek was soos ’n arend wat onder haar kuiken vlieg en keer dat hy val wanneer die kuiken leer vlieg.

5-6 As julle regtig aan My gehoorsaam is en by my ooreenkoms met julle bly, sal julle uit al die volke van die hele aarde my eie persoonlike volk wees. Julle sal ’n volk wees van mense wat vir My offers bring en My dien. Julle sal ’n volk wees wat alles vir My doen.’ Dit is my boodskap wat jy vir die Israeliete moet gaan gee.”

7 Moses het van die berg afgeklim en die leiers van die volk bymekaargeroep. Hy het die Here se boodskap vir hulle gegee.

8 Die hele volk het toe gesê asof hulle almal net met een mond praat: “Ons sal alles doen wat die Here van ons vra.” Moses het teruggegaan en vir die Here gaan sê wat hulle reaksie was.

Die Here gaan sy volk ontmoet

9 Nadat Moses vir die Here gesê het hoe die volk geantwoord het, het die Here vir hom gesê: “Ek gaan in ’n dik onweerswolk na jou toe kom sodat die volk kan hoor hoe dit klink wanneer Ek met jou praat. Hulle sal jou dan vertrou omdat hulle weet dat Ek met jou praat.

10 Gaan nou terug na die volk toe,” het die Here verder vir hom gesê, “en laat hulle hulle gereedmaak en hulle klere was

11 sodat hulle oormôre reg sal wees om die Here te ontmoet. Hy sal op daardie dag afkom uit die hemel na die Sinaiberg toe.

12 Jy moet ’n tou om die berg span om die volk van die berg af weg te hou. Jy moet vir hulle sê dat jy enigeen wat op die berg klim, sal doodmaak. Hulle mag selfs nie eens tot onder by die voet van die berg kom nie.

13 Enigeen wat by die berg kom, of dit nou ’n dier of ’n mens is, kan nie langer bly lewe nie. Die oortreder moenie eens in hegtenis geneem word nie, maar sommer net daar met klippe doodgegooi word of met pyl en boog doodgeskiet word. Eers wanneer daar ’n trompet blaas, mag hulle uit die kamp uit na die berg toe kom.”

14 Moses het toe van die berg afgeklim. Hy het teruggegaan na die volk toe en hulle aangesê om hulle gereed te kry om die Here te ontmoet. Hulle het hulleself begin regkry en hulle klere gewas.

15 Moses het vir die volk gesê: “Kry julleself reg vir die belangrike gebeurtenis wat oormôre gebeur. Julle moet tot dan toe nie by mekaar slaap nie.”

Dit is skrikwekkend om met God te make te kry

16 Op die oggend van die derde dag was daar donderslae en weerlig. Daar het swaar, donker wolke oor die berg gehang. ’n Trompet het baie hard geblaas. Die hele volk het begin bewe daar in die kamp.

17 Moses het die volk toe uit die kamp laat kom om die Here by die berg te gaan ontmoet. Hulle het by die voet van die berg gaan staan.

18 Die Here het afgekom na die berg toe. Daar was vuurvlamme om Hom. Die hele berg Sinai was toe onder die rook. Dit was soos die rook wat uit ’n oond borrel. Die hele berg het geskud.

19 Die trompet het al hoe harder geblaas. Moses het met God gepraat en die Here het hom met donderslae geantwoord.

20 Die Here het afgekom na die top van berg Sinai toe. Hy het vir Moses geroep om op te klim boontoe. Moses het daarnatoe opgeklim

21 en die Here het daar vir hom gesê: “Klim af en gaan waarsku die volk dat hulle nie by die lyn wat jy om die berg gespan het, moet probeer verbykom nie. Hulle moet nie kom probeer kyk hoe die Here lyk nie. Almal wat by die lyn probeer verbykom, sal dood neerval.

22 Selfs die mense wat vir My offers bring, moet op ’n veilige afstand bly staan as hulle nie wil hê die Here moet iets met hulle laat gebeur nie.”

23 Moses het vir die Here gesê: “Die volk kan nie hier teen die berg uitklim nie. U het ons tog self gewaarsku om dit af te sper omdat dit die plek is wat vir U eenkant gehou word.”

24 “Goed,” sê die Here vir Moses, “gaan dan nou terug en dan kom jy weer en bring hierdie keer vir Aäron saam met jou. Maar onthou, die mense wat die offers bring en die mense van die volk mag nie verby daardie lyn kom wat jy gespan het nie. Hulle mag nie na die Here probeer opklim nie. As hulle dit doen, sal Ek hulle doodmaak.”

25 Moses het toe na die volk toe afgeklim en hulle gaan waarsku.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40