6 Die hele groep van Josef en sy broers is met verloop van tyd die een na die ander dood.
7 Die Israeliete het baie kinders gehad en het net al meer geword. Daar was naderhand so baie van hulle dat hulle oor die hele Egipte gaan bly het.
8 In ’n stadium het daar ’n nuwe koning in Egipte gekom. Hy het niks geweet van Josef en alles wat in sy tyd gebeur het nie.
9 Hy het vir die mense onder hom gesê: “Kyk ’n bietjie; die Israeliete is besig om meer as ons te word. Hulle raak ook sterker as ons.
10 Ons sal ’n plan moet uitdink om te keer dat hulle nog meer word. As daar oorlog uitbreek, kan hulle by die vyand aansluit. Hulle kan dan van oral uit die land optrek en teen ons begin veg.”
11 Die farao het toe manne oor die Israeliete aangestel wat hulle gedwing het om die werk te doen wat onbetaalde slawe doen. Die farao, soos die koning van Egipte genoem is, het die Israeliete gebruik om vir hom die twee stede Pitom en Rameses te bou waar hy voorrade kon wegbêre.
12 Die plan het egter geboemerang. Hoe swaarder die farao hulle laat werk het, hoe meer het die Israeliete geword en op al meer plekke gaan bly. Dit het die Egiptenaars net al hoe banger vir die Israeliete laat word.