Eksodus 10:1-7 DB

1 Die Here het vir Moses gesê: “Gaan stel weer jou eis vir die farao. Ek het hom en sy leiers hardkoppig gemaak sodat Ek rede kan hê om al hierdie dinge met hulle te laat gebeur.

2 Julle kan aan julle nageslag gaan vertel hoe Ek met al hierdie dinge wat Ek gedoen het, die Egiptenaars belaglik gemaak het. Ek het dit gedoen om vir julle te wys hoe sterk Ek is en om julle almal te oortuig dat Ek werklik die Here is.”

3 Moses en Aäron is toe na die farao toe. “So sê die Here, die God van die Hebreërs,” sê hulle vir hom. “Hoe lank gaan jy nog bly weier om voor My te buig? Jy moet dadelik my volk laat gaan dat hulle My kan gaan aanbid!

4 As jy aanhou weier om my volk te laat gaan, bring Ek sommer môre nog ’n ramp van sprinkane in jou land.

5 Daar sal so baie sprinkane wees dat jy nie eens die grond onder hulle sal kan sien nie. Hulle sal elke krieseltjie groenigheid afvreet wat daar na die haelstorm oorgebly het. Selfs die bome, wat intussen weer begin uitloop het, sal hulle kaalstroop.

6 Hulle sal oral in jou paleis en in die huise van julle leiers en oor die hele Egipte kom. So ver as wat mense kan terugdink, sal hulle nie kan onthou dat so iets al ooit gebeur het nie.”Moses het toe sy rug vir die farao gedraai en is daar weg sonder om hom te groet.

7 Die mense wat vir die farao raad gee, het toe vir hom gevra: “Hoe lank moet ons nog met hierdie probleem sit? Laat tog die mansmense gaan dat hulle tot die Here hulle God kan gaan bid. U kan mos sien Egipte is besig om tot niet te gaan!”