11 Niks daarvan nie! Net die mansmense kan gaan om tot die Here te gaan bid. Dit is mos wat julle nog heeltyd bly vra het!” Hy het toe vir Moses en Aäron daar weggejaag.
12 Die Here het toe vir Moses gesê: “Steek jou hand uit en hou dit oor die hele Egipte sodat die sprinkane deur die hele land kan trek. Hulle sal elke groenigheidjie wegvreet wat na die haelstorm oorgebly het.”
13 Toe Moses sy kierie oor Egipte uitsteek, het die Here ’n oostewind oor die land laat waai, dwarsdeur die dag en ook deur die nag. Teen die volgende oggend het dit sprinkane oor die land begin inwaai.
14 Die sprinkane het oor die hele Egipte versprei. Hulle het in groot swerms op alles toegesak. So iets het nog nooit tevore of ook daarna ooit weer daar gebeur nie.
15 Hulle het die grond toegemaak. Dit was sommer donker oor die aarde. Hulle het alles voor die voet weggevreet wat groen was op die grond en wat na die hael aan die bome oorgebly het. In die hele Egipte het daar nie ’n blaartjie aan ’n boom of ’n grassie in die veld oorgebly nie.
16 Die farao het Moses en Aäron dringend laat roep. Hy bieg toe by hulle: “Ek erken ek het ’n fout gemaak. Ek het my misgis met die Here julle God en ook met julle.
17 Vergeef tog net hierdie een keer my fout. Gaan pleit by die Here julle God dat Hy asseblief hierdie dood van my nek moet afhaal.”