15 Hulle het die grond toegemaak. Dit was sommer donker oor die aarde. Hulle het alles voor die voet weggevreet wat groen was op die grond en wat na die hael aan die bome oorgebly het. In die hele Egipte het daar nie ’n blaartjie aan ’n boom of ’n grassie in die veld oorgebly nie.
16 Die farao het Moses en Aäron dringend laat roep. Hy bieg toe by hulle: “Ek erken ek het ’n fout gemaak. Ek het my misgis met die Here julle God en ook met julle.
17 Vergeef tog net hierdie een keer my fout. Gaan pleit by die Here julle God dat Hy asseblief hierdie dood van my nek moet afhaal.”
18 Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gaan bid.
19 Die Here het toe die wind van die see af laat omswaai in ’n baie sterk westewind. Dit het al die sprinkane in die See van Riete ingewaai. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egipte agtergebly nie.
20 Die Here het egter weer die farao se hardkoppigheid die oorhand oor hom laat kry. Hy wou weer nie kopgee om die Israeliete te laat gaan nie.
21 Die Here het Moses beveel: “Hou jou hand na die hemel toe. Dit sal donker word oor Egipte. Dit sal so donker word dat ’n mens amper aan die donker sal kan vat.”