17 Vergeef tog net hierdie een keer my fout. Gaan pleit by die Here julle God dat Hy asseblief hierdie dood van my nek moet afhaal.”
18 Moses het van die farao af weggegaan en tot die Here gaan bid.
19 Die Here het toe die wind van die see af laat omswaai in ’n baie sterk westewind. Dit het al die sprinkane in die See van Riete ingewaai. Daar het nie een enkele sprinkaan in die hele Egipte agtergebly nie.
20 Die Here het egter weer die farao se hardkoppigheid die oorhand oor hom laat kry. Hy wou weer nie kopgee om die Israeliete te laat gaan nie.
21 Die Here het Moses beveel: “Hou jou hand na die hemel toe. Dit sal donker word oor Egipte. Dit sal so donker word dat ’n mens amper aan die donker sal kan vat.”
22 Moses het sy hand boontoe uitgestrek. Dit het drie dae lank stikdonker geword oor die hele Egipte.
23 Drie dae lank kon die Egiptenaars mekaar glad nie sien nie en nie een kon ’n voet versit nie. Waar die Israeliete gewoon het, was dit egter helder daglig.