Eksodus 12:13-19 DB

13 Die bloed wat julle aan die kosyne van julle huise gesmeer het, sal vir My ’n teken wees om julle uit te ken. Wanneer Ek dit sien, sal Ek by daardie huis verbygaan. Ek sal julle spaar van die ramp waarmee Ek die hele Egipte gaan tref.”

14 “Elke jaar wanneer julle hierdie fees hou, moet julle onthou wat in Egipte gebeur het. Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees wat julle elke jaar gebruik om fees te vier vir die Here.

15 Sewe dae lank moet julle brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Reeds op die eerste dag van die fees moet julle alles wat suurdeeg in het, uit julle huise wegvat. As enigeen gedurende hierdie sewe dae brood eet wat met suurdeeg gemaak is, moet hy weggejaag word.

16 Op die eerste en die laaste dag van die fees moet julle bymekaarkom om vir die Here kerk te hou. Op daardie dae mag julle glad nie aangaan met julle gewone werk nie. Julle mag wel op daardie dae vir julleself kos gaarmaak.

17 “Julle moet elke jaar hierdie fees hou wanneer julle brode eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Julle moet onthou dat dít die dag is waarop Ek julle families uit Egipte laat wegtrek het. Die dag moet onder julle nasate ’n dag wees waarop hulle jaar na jaar in herinnering roep wat Ek vir julle in Egipte gedoen het.

18 Vanaf die aand van die veertiende dag van daardie eerste maand, tot op die aand van die 21ste dag mag julle nie brood eet met suurdeeg in nie.

19 Vir hierdie sewe dae mag daar nie ’n krieseltjie suurdeeg in enige van julle huise wees nie. As enigiemand, of hy iemand is wat van ’n ander land kom en of hy van geboorte ’n Israeliet is, in hierdie tyd enigiets met suurdeeg in eet, moet julle hom van julle af wegjaag.