25 Wanneer julle in die land gaan woon wat die Here vir julle beloof het, moet julle hierdie fees elke jaar hou sonder om dit een keer oor te slaan.
26 Wanneer julle kinders vir julle vra hoekom julle hierdie fees hou,
27 moet julle vir hulle sê: ‘Ons slag die paaslam vir die Here omdat Hy by die huise van die Israeliete verbygegaan het toe Hy die oudste seuns in Egipte laat doodgaan het. Hy het ons huise gespaar en nie ons kinders laat doodgaan nie.’” Die volk het toe neergeval en tot die Here gebid.
28 Hulle het teruggegaan na hulle huise toe en presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.
29 Teen middernag het die Here deur Egipte begin trek. Hy het in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Van die oudste seun van die farao wat na hom sou koning word, tot by die oudste seun van die man wat in die tronk sit, is almal dood. Selfs onder die vee het dié wat eerste gebore is, gevrek.
30 Die farao en al sy belangrikste mense en al die mense wat in Egipte bly, het daardie nag uit die bed uit opgestaan. ’n Hartverskeurende gehuil kon deur die hele Egipte gehoor word. Daar was nie een enkele huis waarin daar nie daardie nag iemand dood is nie.
31 Terwyl dit nog nag was, het die farao Moses en Aäron laat kom. Hy het by hulle gepleit: “Loop asseblief weg uit my land uit! Gee tog pad van my volk af, julle en al wat ’n Israeliet is! Loop aanbid die Here soos julle aangehou het om te vra.