1 Die Israeliete het uit die Sinwoestyn weggetrek. Die Here het elke keer vir hulle gewys waarheen hulle moes gaan. So het hulle by Rafidim uitgekom en daar kamp opgeslaan. Daar was egter nie vir hulle water om te drink nie.
2 Die volk het met Moses aan die stry geraak. Hulle wou hê hy moes sorg dat daar genoeg water is vir hulle om te drink. Moses het vir hulle gesê: “Waarom kom staan julle nou met my en rusie maak? Hoekom tart julle die Here so uit?”
3 Die volk het so dors geword dat hulle Moses begin verwyt het: “Jy het ons en ons kinders en ons vee uit Egipte laat wegtrek sodat ons hier in die woestyn van dors kan doodgaan.”
4 Moses het by die Here hulp gaan vra: “Here, wat kan ek met hierdie volk doen? Hulle gaan my met klippe doodgooi.”
5 Die Here sê toe vir hom: “Vat dieselfde kierie waarmee jy op die Nyl geslaan het. Vat ook ’n paar van die leiers van Israel saam met jou. Loop saam met hulle voor die volk uit
6 na die rots waar Ek vir jou staan en wag by Horeb. Slaan met jou kierie op die rots. Daar sal water uit die rots kom vir die volk om te drink.” Terwyl die leiers staan en kyk, het Moses op die rots geslaan. Daar het water uitgekom.
7 Hy het die plek Massá (dit beteken “uittart”) en Meriba (dit beteken “rusie”) gedoop. Die Israeliete het daar met hom rusie gemaak. Hulle het die Here se geduld beproef toe hulle gevra het: “Is die Here nog by ons of het Hy al lankal weggeraak?”