8 Moses het sy skoonpa uitvoerig vertel wat die Here alles met die farao en met Egipte laat gebeur het om Israel te bevry. Hy het hom ook vertel van al die probleme wat hulle langs die pad gehad het en hoe die Here hulle daaruit gehelp het.
9 Jetro was baie bly om te hoor van al die wonderlike dinge wat die Here laat gebeur het om Israel uit Egipte te bevry.
10 Jetro het gesê: “Loof die Here! Hy het julle uit die greep van Egipte en uit die hand van die farao bevry. Hy het sy volk uit die kloue van Egipte geruk.
11 Nou weet ek dat die Here groter is as enige mag op aarde, as enige onregverdige ding wat hulle met julle gedoen het.”
12 Moses se skoonpa, Jetro, het toe ’n offer wat verbrand word en ook gewone offers van diere wat geslag word, vir God gebring. Aäron en die leiers van Israel het ook gekom en saam met hom die offer-ete geëet waarmee hulle die Here geloof en grootgemaak het.
13 Die volgende dag moes Moses as regter optree. Hy moes na die sake luister wat die mense van die volk teen mekaar gehad het en daaroor uitspraak lewer. Die mense het tou gestaan van vroeg tot laat en lank gewag vir hulle beurt.
14 Moses se skoonpa het gesien hoe Moses probeer om self al die sake van die volk te verhoor. Hy vra toe vir hom: “Wat probeer jy regkry? Hoekom wil jy al die hofsake alleen verhoor? Die volk moet die hele dag lank vir jou staan en wag.”