7 Sy sussie kom toe nader en vra vir die farao se dogter: “Kan ek maar iemand by die Hebreërs vir u gaan haal wat die babatjie kan laat drink en hom vir u kan oppas?”
8 Die farao se dogter antwoord haar: “Asseblief, ja. Gaan haal haar.” Die meisie het toe haar ma gaan haal.
9 Die farao se dogter het vir haar gesê: “Vat hierdie babatjie en laat hom aan jou drink. Ek sal jou daarvoor betaal.” Sy ma het hom toe gevat en vir hom gesorg.
10 Toe die seuntjie groot genoeg was, het sy ma hom na die farao se dogter toe gevat. Dié het hom as haar eie seun aangeneem. Sy het gesê: “Ek noem hom Moses, want ek het hom uit die water uitgehaal.”
11 Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan.
12 Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe.
13 Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?”