11 Hierdie beroemde leiers het God gesien. Hy het nie iets aan hulle gedoen toe hulle Hom gesien het nie. God en hulle het selfs daar saam geëet en gedrink.
12 Die Here het vir Moses gesê: “Klim verder teen die berg uit na My toe. Wanneer jy hier is, sal Ek vir jou plat klippe gee waarop Ek al die reëls en regulasies neergeskryf het wat jy vir die volk moet gee.”
13 Moses en sy helper Josua het toe gereedgemaak. Moses het verder teen die berg uitgeklim.
14 Voor hy van hulle af weg is, het Moses vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons tot ons na julle toe terugkom. Aäron en Hur is hier by julle. As daar iets dringends is, moet julle na hulle toe kom.”
15 Terwyl Moses verder teen die berg uitklim, het die donker wolk weer afgesak en oor die berg gaan hang.
16-17 Die Here was in al sy grootheid op die Sinaiberg. Vir die Israeliete onder die berg het dit gelyk na ’n vuur wat op die top van die berg brand terwyl die Here daar was. Die donker wolk het ses dae lank oor die berg bly hang. Op die sewende dag het die Here uit die wolk gepraat. Hy het Moses nader geroep.
18 Moses het verder teen die berg uitgeklim en in die wolk verdwyn. Hy het vir altesaam 40 dae daar op die berg gebly.