35 Aan die onderkant van elkeen van die arms, net waar dit uit die steel kom, moet daar ’n goue blomknop vas wees.
36 Die arms en blomknoppe moet alles uit een stuk goud gevorm wees.
37 “Maak ook sewe olielampe vir die staander. Jy moet dit op so ’n manier daaraan vassit dat die lig van die lampe na die voorkant van die staander skyn.
38 Ook die tangetjie waarmee jy die vlammetjies van die lampe doodknyp en die houers met die olie en die pit in, moet van suiwer goud gemaak word.
39 Daar sal 34 kilogram suiwer goud nodig wees om die staander en al sy dele te maak.
40 Jy moet sorg dat dit alles gemaak word volgens die voorbeeld wat Ek vir jou op die berg gewys het.”