1 “Jy moet ’n staander van akasiahout maak waarop die offers by die tent gebring kan word. Dit word die altaar genoem. Dit moet vierkantig wees: twee en ’n half meter breed aan elke kant en een en ’n half meter hoog.
2 Op elke hoek moet jy ’n uitsteeksel vassit wat soos die horings van ’n bees lyk. Jy moet die hele altaar met koper oortrek.
3 Die gereedskap wat by die altaar gebruik word, moet ook alles van koper gemaak word. Die gereedskap is die panne waarin die as uitgekrap word, die skoppe, die komme, die vurke en die panne waarin die vuurkole geskep word.
4 Maak ook ’n rooster van koper vir die altaar. Sit vier koperringe daaraan vas waardeur drastokke vir die altaar gesteek kan word.
5 Sit die rooster aan die boonste helfte van die altaar vas sodat dit tot bo by sy rand kom. Sit ook die koperringe op die hoeke van die altaar vas.