6 “Die deel wat oor die skouers kom, moet van geweefde linne gemaak word. Daar moet op ’n kunstige manier met gouddraad en blou, pers en bloedrooi wol daarop geborduur word.
7 Dit moet twee bande hê wat oor die skouers kom.
8 Die gordel waarmee dit om die heupe vasgemaak word, moet op dieselfde manier gemaak word met geborduurde gouddraad en blou en pers en bloedrooi wol.
9 Vat dan twee oniksstene en graveer die name van die twaalf seuns van Jakob
10 in die volgorde waarin hulle gebore is daarop. Daar moet ses name op die een steen kom en die res op die ander steen.
11 Soos ’n graveerkunstenaar ’n seëlring graveer, moet jy die name op die twee stene laat graveer. Die twee stene moet dan in goud gemonteer word.
12 Werk die twee stene vas op die twee skouerbande van die stuk wat oor die skouers kom. Dit verteenwoordig die Israeliete. Wanneer Aäron met hulle name op sy skouers voor die Here kom, sal God aan al die Israeliete dink.