4 Toe die Here sien dat hy nader kom om te kom kyk wat gebeur, het die Here uit die doringbos met hom gepraat: “Moses! Moses!”Moses het geantwoord: “Dit is ek, ja.”
5 Die Here sê vir hom: “Jy moenie nog nader kom nie. Trek uit jou sandale. Jy staan nou op ’n plek wat aan die Here behoort.
6 Ek is die God van jou voorouers, die God van Abraham en van Isak en van Jakob.” Moses het toe sy hande voor sy oë gehou, want hy was bang hy moet na die Here kyk.
7 Die Here het vir hom gesê: “Ek het mooi gesien hoe swaar my volk daar in Egipte kry. Ek het gehoor hoe hulle skree omdat hulle soos slawe gedryf word. Ek het baie duidelik gesien hoe swaar hulle kry.
8 Ek het nou gekom om hulle weg te vat uit die hande van die Egiptenaars. Ek gaan hulle uit daardie land laat wegtrek na ’n mooi en ’n groot land waar daar volop kos is. Dit is die plek waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik bly.
9 Ek het tot in die hemel gehoor hoe die Israeliete roep dat iemand hulle moet help. Ek het ook gesien hoe die Egiptenaars hulle mishandel.
10 Gaan terug Egipte toe. Ek wil hê jy moet na die farao toe gaan. Jy moet my volk uit Egipte gaan uitlei.”