14 Julle moet altyd op die sewende dag rus. Julle doen dit ter wille van My. Die persoon wat hom nie aan die rusdag steur nie, moet doodgemaak word. Iemand wat op die rusdag maar net aangaan met sy werk asof daar nie ’n ooreenkoms met My is nie, hoort nie by my volk nie. Hy moet beslis weggejaag word.
15 Julle kan ses dae lank aangaan met julle werk. Op die sewende dag moet daar uit eerbied vir die Here heeltemal opgehou word met die werk. As iemand moedswillig is en maar net eenvoudig aangaan met sy werk, moet hy doodgemaak word. “
16 Vir die Israeliete en vir hulle nageslag is die rusdag ’n ooreenkoms met die Here wat vir altyd staan. Daarom moet hulle sorg dat hulle dit altyd hou.
17 Dis vir altyd ’n teken dat daar ’n ooreenkoms tussen My en Israel is. Die Here het die hemel en die aarde in ses dae gemaak. Hy het op die sewende dag opgehou om weer asem te skep en uit te rus.”
18 Toe die Here op Sinaiberg klaar met Moses gepraat het, het Hy vir hom die twee plat klippe gegee. Die klippe is die bewys van sy ooreenkoms met Israel. Die Here het self op die klippe die reëls vir sy ooreenkoms neergeskryf.