6 Vroeg die volgende oggend het hulle toe offers op die altaar begin verbrand en offers begin slag wat vrede moet bring. Later het hulle begin eet en drink. Dit het naderhand in ’n uitspattigheid ontaard.
7 Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dadelik teruggaan! Jou volk wat jy uit Egipte weggelei het, is besig om lelike dinge te doen.
8 Hulle was baie vinnig om te vergeet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. Hulle het sowaar vir hulle ’n beeld van ’n kalf gaan maak. Hulle aanbid die kalf en bring offers daarvoor. Hulle sê die kalf is Israel se god wat Israel uit Egipte laat wegkom het.
9 Ek het sommer aan hulle gesien dat hulle ’n volk is wat hulle eie kop gaan volg.
10 Los My nou uit dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitroei. Moenie jou bekommer nie, want Ek sal jou ’n groot volk laat word.”
11 Moses het toe by die Here sy God begin mooipraat: “Here, hoekom sal U nou u woede uithaal op u volk wat U met groot krag uit Egipte laat wegtrek het?
12 Waarom sal U nou die Egiptenaars kans gee om te sê: ‘Hulle God het hulle met ’n slim plan uitgevang. Hy het hulle laat trek sodat Hy hulle daar by die berg kan gaan doodmaak. Hy het hulle van die aarde afgevee. Laat asseblief tog u woede bedaar. Moet asseblief tog nie hierdie vreeslike ding met u volk laat gebeur nie.