25 Jy mag nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die paaslam by die paasfees mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.
26 Jy moet die beste deel van die eerste oes wat jy uit die grond haal, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.”
27 Die Here het vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde neer. Hulle is die reëls vir my ooreenkoms met jou en Israel.”
28 Moses was 40 dae lank daar by die Here op die berg. Hy het niks geëet of gedrink in daardie tyd nie. Die Here het die tien reëls vir sy ooreenkoms met Israel op die plat klippe geskryf wat Moses gekap en saamgebring het.
29 Toe Moses van die berg Sinai afkom met die plat klippe in sy hand - die bewys van hulle ooreenkoms met God - het Moses nie geweet dat die vel op sy gesig geblink het nadat hy met God gepraat het nie.
30 Toe Aäron en al die Israeliete Moses sien, en hulle sien ook hoe sy gesig blink, het hulle bang geword om naby hom te kom.
31 Moses het hulle egter nader geroep. Toe Aäron en al die mans nader kom, het Moses met hulle begin praat.