3 Daar mag nie nog iemand anders saam met jou teen die berg uitklim nie. Daar mag nêrens op die berg enigiemand anders te siene wees nie. Daar mag ook nie enige vee of beeste teen die hang van die berg wei nie.”
4 Moses het toe twee plat klippe uitgekap wat net soos die eerstes gelyk het. Hy het gemaak soos die Here vir hom gesê het en die oggend vroeg opgestaan. Hy het teen Sinaiberg uitgeklim met die klippe in sy hand.
5 Die Here het in ’n wolk afgekom en by Moses gaan staan. Hy het sy Naam “Die Here” uitgeroep.
6 Terwyl die Here by Moses verbygaan, roep Hy uit: “Ek is die Here. Ek is die God wat mense help. Ek is jammer vir mense en geduldig met hulle. Ek bly altyd getrou. Jy kan op My reken.
7 Ek bly getrou aan derduisende mense. Ek vergeet alles wat hulle verkeerd gedoen het. Maar Ek laat nie met My mors nie. Ek straf die kinders en die agterkleinkinders vir oortredings van die ouers wat nie na My wou luister nie. Ek onthou wat hulle verkeerd gedoen het vir ’n hele paar geslagte daarna.”
8 Moses het dadelik op sy knieë gegaan en tot die Here begin bid.
9 Hy het gevra: “Here, as U dan van my hou, gaan dan tog asseblief saam met ons. Ons is regtig ’n hardkoppige volk. Vergeef tog ons sonde en ons oortreding. Aanvaar ons as u eie volk.”