10 “Almal wat die kennis en die vaardigheid het, moet kom help om die tent te maak.
11 Daar is baie dinge wat ons moet maak. Daar is die tent met die seile wat bo-oor kom; die hakies wat daaraan vasgewerk word; die panele en die dwarslatte wat hulle bymekaarhou; die silwer regop pale en hulle voetstukke;
12 die ark waarin die bewys van die ooreenkoms gehou word met die pale waarmee dit gedra word; die deksel wat bo-op die ark pas; die gordyn wat die tent in twee deel;
13 die tafel waarop die brode neergesit word met sy drahoute en sy toerusting;
14 die ligstaander wat die tent verlig en alles wat daarvoor nodig is; sy lampies en hulle olie;
15 die kleiner altaar vir die wierook met sy drastokke; die salfolie wat gemeng moet word en die wierook; die gordyn by die ingang van die tent;
16 die groot altaar buite waarop die offers verbrand word met sy koperrooster en drahoute en toerusting; die koperbak op sy voetstuk waar die priesters hulleself was;