15 Hulle het vir die sak goue kettinkies uit suiwer goud gemaak wat soos tou gevleg is.
16 Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dit aan die twee boonste hoeke van die sak vasgesit.
17 Die kettinkies is toe aan die ringe vasgesit.
18 Die ander punte van die kettinkies is vasgesit aan die monterings op die bande van die deel wat oor die skouers kom.
19 Hulle het nog twee ander goue ringe gemaak en hulle vasgewerk aan die onderste twee hoeke van die sak wat voor die bors kom. Dit is vasgewerk aan die binnekant waar dit teen die skouerkleed kom.
20 Twee verdere ringe is laag af vasgewerk waar die gordel kom, aan die bande van die skouerkleed.
21 Hulle het toe die onderste twee ringe van die borssak met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerkleed vasgesit, sodat dit nie laer as die gordel kon afsak nie. Dit was presies soos die Here vir Moses gesê het hulle dit moet maak.