12 Moses en Aäron is toe weg van die farao af. Moses het tot die Here gebid oor die paddas waarmee Hy die farao gestraf het.
13 Die Here het gedoen wat Moses vir die farao belowe het. Die paddas in die huise en buite in die veld het gevrek.
14 Die mense het hulle by die hope bymekaargemaak. ’n Doodsreuk het oor die hele land gehang.
15 Toe die farao egter sien dat die krisis verby is, het hy weer moedswillig geraak. Hy het gerieflikheidshalwe vergeet dat hy belowe het hulle kon gaan. Dit was inderdaad mos soos die Here gesê het dit sou gebeur.
16 Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron met sy kierie in die stof op die grond slaan. Die stof sal dan muggies word wat oor die hele land versprei.”
17 Hulle het toe so gemaak. Toe Aäron sy kierie oplig en in die stof slaan, het daar muggies op mens en dier toegesak. Dit het gelyk of elke krieseltjie stof in Egipte ’n muggie geword het.
18 Die towenaars het ook probeer om met hulle kunsies muggies uit die grond te laat kom. Hulle kon dit egter nie regkry nie. Die muggies was vir mens en dier ’n verpesting.