15 Toe die farao egter sien dat die krisis verby is, het hy weer moedswillig geraak. Hy het gerieflikheidshalwe vergeet dat hy belowe het hulle kon gaan. Dit was inderdaad mos soos die Here gesê het dit sou gebeur.
16 Die Here het vir Moses gesê: “Laat Aäron met sy kierie in die stof op die grond slaan. Die stof sal dan muggies word wat oor die hele land versprei.”
17 Hulle het toe so gemaak. Toe Aäron sy kierie oplig en in die stof slaan, het daar muggies op mens en dier toegesak. Dit het gelyk of elke krieseltjie stof in Egipte ’n muggie geword het.
18 Die towenaars het ook probeer om met hulle kunsies muggies uit die grond te laat kom. Hulle kon dit egter nie regkry nie. Die muggies was vir mens en dier ’n verpesting.
19 “Hierdie is ’n vingerwysing van God,” het die towenaars vir die farao gesê. Maar die farao se kop het net al harder geword en hy het bly weier om na Moses-hulle te luister. Hy het presies opgetree soos God gesê het dit sou gebeur.
20 Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vir die farao gaan wag wanneer hy na die water toe kom. Jy moet weer vir hom sê dat die Here van hom eis: ‘Laat my volk toe om te gaan en My te aanbid.
21 As jy nie my volk toelaat om te gaan nie, sal Ek swerms vlieë op jou en jou amptenare en jou volk en julle huise loslaat. In die huise van Egipte en oral in die land sal dit wemel van die vlieë.