29 “Goed,” sê Moses vir hom, “sodra ek uit die stad uit is, sal ek tot die Here bid dat die donderstorm moet bedaar en dat die hael moet ophou. U sal dan besef dat die Here in beheer van die land is.
30 Ek besef egter baie duidelik dat u en u mense nog glad nie die nodige respek vir die Here God het nie.”
31 Die hele vlas- en garsoes is weggeslaan. Die gars was al in die aar en die vlas het net mooi begin uitstoot.
32 Die koring en die hawer is darem nie vernietig nie omdat dit eers later moes opkom.
33 Moses is toe van die farao af weg. Hy het net buite die stad tot die Here gebid. Die donderstorm en hael het opgehou en dit het ophou reën.
34 Toe die farao sien dat die storm oor is, het hy maar net voortgegaan met sy sonde. Hy en sy amptenare het aanhou weier.
35 Soos die Here tevore gesê het dit sou gebeur, het die farao steeds eiesinnig gebly en bly weier dat die Israeliete kan gaan.