7 Die farao het ook mense gestuur om te kyk of dit regtig so is dat daar niks by die Israeliete gevrek het nie. Alhoewel hulle vir hom kom sê het dat dit werklik so is, het hy weer viervoet vasgesteek en bly weier om die volk te laat gaan.
8 Die Here het daarop vir Moses en Aäron beveel: “Gaan krap ’n paar hande vol roet uit ’n oond. Moses moet dit voor die farao in die lug uitstrooi.
9 Dit sal ’n fyn poeier word wat oor die hele Egipte versprei. Dit sal oor die hele land rou sere op mense en diere laat kom.”
10 Hulle het toe roet gevat. Terwyl die farao kyk wat hy doen, het Moses die roet gevat en in die lug gegooi. Daar het toe swere op die mense en die diere se vel gekom.
11 Die Egiptiese towenaars was self so vol sere dat hulle nie eens kon kom kyk of hulle dieselfde as Moses kon doen nie. Die hele Egipte was die ene rowe en sere.
12 Die Here het die farao egter net nog meer hardkoppig laat word. Hy het al minder na hulle geluister. Dit is mos soos die Here gesê het dit sou wees.
13 Die Here het toe vir Moses gesê: “Jy moet môreoggend vroeg opstaan en vra of jy met die farao kan praat. Sê dan vir hom: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het van jou geëis: jy moet my volk laat gaan om My te gaan aanbid.