29 “My pa het die land baie skade aangedoen,” antwoord Jonatan. “Kyk hoe blink my oë nadat ek net ’n bietjie heuning geproe het.
30 Dit sou soveel beter gewees het as die manne vandag goed kon weglê aan die goed wat hulle by die Filistyne gevat het. Ons kon die Filistyne ’n nekslag gegee het.”
31 Daardie dag het die Israeliete van Mikmas af tot by Ajalon die Filistyne kafgeloop. Omdat die manskappe doodmoeg was,
32 het hulle teen die aand op die goed toegesak wat hulle van die Filistyne afgeneem het. Hulle het van die skape en bokke, koeie en kalwers gegryp en dit op die grond geslag en geëet sonder dat die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.
33 Iemand gaan sê toe vir Saul: “Die mense sondig teen die Here as hulle die vleis eet voor die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.” “Julle doen verkeerd,” sê Saul, “rol dadelik ’n groot klip nader.”
34 Daarop sê hy: “Laat weet al die manskappe: Elkeen moet sy bees of skaap hier na my toe bring en dit op hierdie klip slag. Dan kan julle eet en nie teen die Here sondig met die bloed van die diere nie.” Daardie aand het elkeen wat ’n dier wou slag, dit na die groot klip gebring en dit daar geslag.
35 So het Saul vir die Here ’n altaar met die klip gebou. Dit was die eerste keer dat hy so iets gedoen het.