17 Dawid het die volgende môre toe dit lig word, teen hulle begin veg en tot die aand aangehou. Behalwe 400 jong manne wat op kamele gespring en weggejaag het, het daar nie een van hulle weggekom nie.
18 Dawid het al die mense wat die Amalekiete gevang het, gered, ook sy eie twee vroue.
19 Nie een enkele mens is vermis nie; al die kinders en al die goed, ja, elke dingetjie wat die Amalekiete gevat het, het Dawid teruggekry.
20 Hy het al die skape en beeste wat by die Amalekiete was, laat aankeer. Die mense het hierdie diere in ’n trop aangejaag voor die ander diere wat by hulle was. Hulle het gesê: “Hierdie is Dawid se goed.”
21 Die 200 man wat by die Besorspruit agtergebly het omdat hulle te gedaan was om saam met Dawid te gaan, het vir hom en die ander mense op die pad gewag. Toe Dawid by hulle kom, het hy vir hulle gevra hoe dit gaan.
22 Onder die manne wat saam met Dawid gegaan het, was daar ’n paar moeilikheidmakers, sommer slegte mense. Hulle sê toe: “Oor hierdie mense nie saam met ons was nie, kry hulle niks van die goed wat ons teruggebring het nie. Elkeen kan net sy vrou en kinders vat, en dan moet hy maak dat hy wegkom!”
23 “A nee a, vriende!” sê Dawid. “Só kan ons darem nie maak met wat die Here vir ons gegee het nie! Hý het ons beskerm en daardie spul rowers wat ons aangeval het, in ons mag gegee.