14 Die bul se vleis, sy vel en sy pensmis moet jy buite die kamp met vuur gaan verbrand. Dit is die eerste offer. Dit is ’n offer vir die sonde van die priesters.”
15 “Bring dan een van die ramme nader. Aäron en sy seuns moet hulle hande ook op sy kop sit.
16 Sny dit keelaf en sprinkel sy bloed van alkante oor die altaar.
17 Sny die ram in verskillende stukke op. Was die binnegoed en pote met water af en sit dit neer by die kop en die stukke vleis wat jy opgesny het.
18 Verbrand dit dan alles op die altaar. Dit is ’n offer wat vir die Here in vuur verbrand word. Hy hou baie daarvan.”
19 “Bring ook die tweede ram nader. Aäron en sy seuns sit weer hulle hande op die ram se kop.
20 Dan slag jy die ram en smeer van sy bloed aan Aäron en sy seuns se regteroorlelle, hulle regterduime en hulle regtergroottone. Sprinkel die bloed wat oor is alkante teen die altaar.