1 Dit het gebeur dat toe Yitz’gak oud geword het en sy oë so swak was dat hy nie kon sien nie, hy sy oudste seun `Esav geroep en vir hom gesê het: “My seun!” Hy het hom geantwoord: “Hier is ek!”
2 Hy sê: “Let op, ek is nou oud en ek ken nie die dag van my dood nie.
3 Vat nou asseblief dadelik jou wapens, jou pylkoker en jou boog en gaan uit in die veld, jag vir my kos
4 en berei vir my ’n smaakvolle ete voor soos ek daarvan hou en bring dit vir my om te eet sodat my gees, liggaam, wil en verstand jou kan seën voordat ek sterf.”
5 Rivkah het gehoor terwyl Yitz’gak met sy seun `Esav praat en `Esav het na die veld gegaan om wild te jag en dit te bring.
6 Rivkah het met haar seun Ya’akov gepraat: “Let op, ek het jou vader met jou broer `Esav hoor praat en sê:
7 ‘Bring vir my wild en maak vir my ’n smaaklike ete dat ek kan eet en jou kan seën voor die Teenwoordigheid van יהוה, voor my dood.’
8 My seun, gehoorsaam daarom my stem, wat ek jou beveel.
9 Gaan nou na die kleinvee en gaan haal vir my twee goeie boklammers dat ek vir jou vader daarvan ’n smaaklike ete kan maak, soos hy daarvan hou
10 en jy sal dit vir jou vader vat sodat hy kan eet en hy jou kan seën voor sy dood.”
11 Ya’akov sê vir sy moeder Rivkah: “Let op, my broer `Esav is ’n harige man en ek is ’n gladde man.
12 Miskien sal my vader oor my voel en ek sal in sy oë wees soos ’n misleier en ’n vloek oor my bring en nie ’n seën nie.”
13 Sy moeder antwoord hom: “Laat jou vloek op my wees, my seun! Gehoorsaam net my stem en gaan haal dit vir my.”
14 Hy het dit gaan haal en na sy moeder gebring en sy moeder het daarvan ’n smaaklike ete gemaak soos sy vader daarvan hou.
15 Rivkah vat ook die beste klere van `Esav, haar oudste seun, wat by haar in die huis was en sy trek dit vir Ya’akov, haar jongste seun, aan
16 en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladde deel van sy nek
17 en sy gee die smaaklike ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Ya’akov, haar seun.
18 Hy kom by sy vader en sê: “My vader!” Hy antwoord: “Hier is ek! Wie is jy, my seun?”
19 Ya’akov sê aan sy vader: “Ek is `Esav, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Sit asseblief regop en eet van my wildsvleis dat u gees, liggaam, wil en verstand my kan seën.”
20 Yitz’gak het egter aan sy seun gesê: “Hoe het jy dit so gou gekry, my seun?” Hy antwoord: “Omdat יהוה, u God, dit na my toe laat kom het.”
21 Yitz’gak sê vir Ya’akov: “Kom asseblief nader dat ek aan jou kan voel, my seun, of jy waarlik my seun `Esav is of nie.”
22 Ya’akov het nader gekom na sy vader Yitz’gak en hy het aan hom gevoel en gesê: “Die stem is Ya’akov se stem, maar die hande is `Esav se hande.”
23 Hy het hom nie herken nie omdat sy hande harig was soos sy broer `Esav se hande en hy het hom geseën.
24 Hy het gevra: “Is jy werklik my seun `Esav?” En hy het geantwoord: “Ja.”
25 Hy sê: “Bring dit vir my nader dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet sodat my gees, liggaam, wil en verstand jou kan seën.” Hy het dit vir hom nader gebring en hy het geëet. Hy het ook vir hom wyn gebring en hy het gedrink.
26 Sy vader Yitz’gak sê vir hom: “Kom nou nader en soen my, my seun!”
27 Hy het nader gekom en hom gesoen en hy ruik die geur van sy klere en hy seën hom en sê: “Let op, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat יהוה geseën het;
28 daarom gee God jou van die dou van die hemel en van die vet van die grond van die aarde en oorvloed van graan en druiwesap.
29 Volke sal jou dien en nasies sal voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers en laat die seuns van jou moeder voor jou neerbuig. Vervloek is elkeen wat jou vloek en geseënd is hulle wat jou seën.”
30 Dit het so gebeur dat, net toe Yitz’gak Ya’akov klaar geseën het en Ya’akov nog skaars uit die teenwoordigheid van sy vader Yitz’gak weggegaan het, sy broer `Esav van die jag af gekom
31 en ook ’n smaaklike ete voorberei en dit na sy vader gebring en aan sy vader gesê het: “Laat my vader regop sit en eet van die wildsvleis van sy seun sodat u gees, liggaam, wil en verstand my kan seën.”
32 Sy vader Yitz’gak vra hom: “Wie is jy?” Hy antwoord: “Ek is u seun `Esav, u eersgeborene.”
33 Yitz’gak het gebewe van angs en groot vrees en gesê: “Wie is die een wat wild gejag en vir my gebring het? Ek het alles geëet voordat jy gekom het en hom geseën en hy sal geseënd bly!”
34 Toe `Esav die woorde van sy vader hoor, skree hy met ’n uitermate harde en bitter uitroep en hy sê vir sy vader: “Seën my; vir my ook, o my vader!”
35 Hy antwoord: “Jou broer het met misleiding gekom en jou seën weggevat.”
36 `Esav sê: “Word hy nie by regte Ya’akov genoem omdat hy my nou twee keer onderkruip het nie? Hy het my eersgeboortereg gevat en let op, hy het nou my seën gevat!” Hy vra: “Het u geen seën vir my oorgehou nie?”
37 Yitz’gak antwoord en sê vir `Esav: “Let op, ek het hom heerser oor jou gemaak en aan hom al sy broers as diensknegte gegee en ek het hom met graan en druiwesap onderhou. Wat kan ek nou vir jóu doen, my seun?”
38 `Esav vra vir sy vader: “Het u net een seën, my vader? Seën my; my ook, o my vader!” `Esav het sy stem opgelig en gehuil.
39 Sy vader Yitz’gak antwoord en sê vir hom: “Let op, jou blyplek sal wees in die vetheid van die aarde en in die dou van die hemel daarbo.
40 Jy sal deur jou swaard leef en jy sal jou broer dien, maar dit sal gebeur dat as jy rusteloos raak, jy sy juk van jou nek af sal breek.”
41 `Esav het Ya’akov gehaat as gevolg van die seën waarmee sy vader hom geseën het en `Esav het in sy binneste gedink: “Die dae van rou oor my vader is naby, dan sal ek my broer Ya’akov doodmaak.”
42 Die woorde van `Esav, haar oudste seun, is vir Rivkah vertel en sy stuur en laat Ya’akov, haar jongste seun, roep en sê vir hom: “Let op, jou broer `Esav sal hom op jou wreek en jou doodmaak.
43 My seun, gehoorsaam nou my stem: staan op, vlug na Haran, na my broer Lavan
44 en bly ’n rukkie by hom tot die woede van jou broer wegdraai,
45 tot die toorn van jou broer teen jou wegdraai en hy vergeet het wat jy aan hom gedoen het. Dan sal ek stuur en jou daar laat haal. Waarom moet ek julle altwee op een dag verloor?”
46 Rivkah sê vir Yitz’gak: “Ek is moeg vir my lewe vanweë die dogters van Het. As Ya’akov ’n vrou neem uit die dogters van Het, soos húlle is, uit die dogters van die land, watter lewe is dit vir my?”