Genesis 48 PWL

1 Dit het gebeur ná hierdie dinge dat hulle vir Yosef gesê het: “Let op, u vader is siek.” Hy het sy twee seuns, M’nasheh en Efrayim, saam met hom gevat.

2 Ya’akov is vertel en gesê: “Kyk, u seun Yosef kom na u toe.” Yisra’el het sy krag bymekaargemaak en regop op die bed gaan sit.

3 Ya’akov het vir Yosef gesê: “El-Shaddai (Die Magtige God wat meer as genoeg is) het aan my verskyn by Luz, in die land Kena’an en my geseën

4 en vir my gesê: ‘Let op, Ek sal jou vrugbaar maak en jou vermeerder en jou tot ’n menigte van volke maak en Ek sal aan jou saad ná jou hiérdie land as ewige besitting gee.’

5 Nou, jou twee seuns, Efrayim en M’nasheh, wat vir jou in Mitzrayim gebore is voordat ek in Mitzrayim na jou toe gekom het, is myne; soos Re’uven en Shim’on sal hulle myne wees,

6 maar jou nakomelinge wat jy ná hulle verwek het, sal joune wees. Hulle sal na die naam van hulle broers genoem word in dié se erfdeel.

7 Wat my betref, toe ek van Paddan-Aram af gekom het, het Ragel langs my gesterf in die land Kena’an, op reis, toe daar nog ’n kort ent pad oor was om by Efrat te kom en ek het haar daar begrawe langs die pad na Efrat, dit is Beit-Legem.”

8 Yisra’el sien die seuns van Yosef en sê: “Wie is hierdie?”

9 Yosef antwoord sy vader: “Hulle is my seuns wat God my in hierdie plek gegee het.” Hy sê: “Bring hulle asseblief na my toe en ek sal hulle seën.”

10 Nou, die oë van Yisra’el het dof geword van ouderdom sodat hy nie kon sien nie. Hy het hulle nader gebring en hy het hulle gesoen en hulle omhels.

11 Yisra’el sê vir Yosef: “Ek het nie gedink om jou gesig te sien nie en kyk, God het my ook jou saad laat sien.”

12 Yosef het hulle van langs sy knieë af gebring en met sy gesig op die grond gaan lê.

13 Yosef vat hulle altwee: Efrayim met sy regterhand na Yisra’el se linkerhand en M’nasheh met sy linkerhand na Yisra’el se regterhand en bring hulle na hom toe.

14 Yisra’el steek sy regterhand uit en lê dit op die kop van Efrayim, wat die jongste was en sy linkerhand op die kop van M’nasheh deur sy hande te kruis. M’nasheh was die eersgeborene.

15 Hy het Yosef geseën en gesê: “Die God voor wie se Teenwoordigheid my vaders Avraham en Yitz’gak geleef het, die God wat my gevoed het van my geboorte af tot hierdie dag toe,

16 die Engel wat my losgekoop het uit alle boosheid, seën die seuns, mag my naam oor hulle uitgeroep word en die naam van my vaders Avraham en Yitz’gak en laat hulle groei tot ’n menigte op die aarde.”

17 Toe Yosef sien dat sy vader sy regterhand op die kop van Efrayim gelê het, het sy oë bevange geword en hy het die hand van sy vader gegryp om dit van die kop van Efrayim op die kop van M’nasheh oor te sit.

18 Yosef sê vir sy vader: “Nie so nie, my vader, want hierdie een is die eersgeborene; lê u regterhand op sy kop.”

19 Sy vader weier egter en sê: “Ek weet, my seun, ek weet. Hy sal ook ’n volk word en hy sal ook groot word, maar waarlik sal sy jongste broer groter wees as hy en sy nageslag sal ’n menigte van nasies word.”

20 Hy het hulle dáárdie dag geseën en gesê: “Deur jou sal Yisra’el seën en sê: ‘Mag God jou maak soos Efrayim en soos M’nasheh’!” So het hy Efrayim voor M’nasheh gestel.

21 Toe sê Yisra’el vir Yosef: “Let op, ek sterf, maar God sal by julle wees en Hy sal julle terugbring na die land van julle vaders.

22 Ek gee bo jou broers vir jou Sh’khem, wat ek met my swaard en my boog van die Emoriete afgevat het.”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50