Genesis 37 PWL

1 Ya’akov het gebly in die land waar sy vader ’n besoeker was, in die land Kena’an.

2 Hierdie is die geskiedenis van Ya’akov. Yosef, ’n jongman van sewentien jaar oud, het die kleinvee opgepas saam met sy broers; saam met die seuns van Bilhah en die seuns van Zilpah, die vroue van sy vader. Yosef het bose dinge geskinder oor hulle by sy vader.

3 Yisra’el het Yosef meer liefgehad as al sy seuns, want hy was vir hom die seun van hoë ouderdom en hy het vir hom ’n lang kleed gemaak met lang moue.

4 Toe sy broers egter sien dat hulle vader hom meer as al sy broers liefhet, het hulle hom gehaat en kon nie vredevol en vriendelik met hom praat nie.

5 Yosef het ook ’n droom gehad wat hy vir sy broers vertel het en hulle het hom nog meer gehaat.

6 Hy het vir hulle gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gehad het.

7 Let op, ons was besig om gerwe te bind op die land toe my gerf meteens opstaan en regop bly staan terwyl julle gerwe reg rondom kom staan en hulle voor my gerf neerbuig.”

8 Sy broers sê vir hom: “Sal jy miskien koning wees oor ons? Of sal jy miskien oor ons heers?” Hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde.

9 Toe het hy nog ’n droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: “Let op, ek het nog ’n droom gehad; die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig.”

10 Toe hy dit vir sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en vir hom gesê: “Watter droom is dit wat jy gedroom het? Sal dit gebeur dat ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om op ons gesigte voor jou op die grond neer te val?”

11 Sy broers was jaloers op hom, maar sy vader het wat hy gesê het bewaar.Hand 7:9

12 Sy broers het hulle vader se kleinvee by Sh’khem gaan oppas.

13 Yisra’el sê vir Yosef: “Pas jou broers nie die vee op by Sh’khem nie? Kom, laat ek jou na hulle toe stuur.” Hy antwoord hom: “Hier is ek!”

14 Hy sê vir hom: “Gaan asseblief en kyk of dit goed gaan met jou broers en of dit goed gaan met die vee en bring vir my woord terug.” So het hy hom uit die dal van Hevron uit weggestuur en hy het by Sh’khem aangekom.

15 ’n Sekere man het hom gekry en let op, hy het in die veld rondgedwaal en die man vra vir hom: “Wat soek jy?”

16 Hy antwoord: “Ek soek my broers. Vertel my asseblief waar hulle die vee oppas.”

17 Die man sê: “Hulle het hiervandaan weggegaan, want ek het hulle hoor sê: ‘Laat ons na Dotan gaan’.” Yosef het agter sy broers aan gegaan en hulle in Dotan gekry.

18 Toe hulle hom van ver af sien voordat hy naby hulle kom, het hulle listig beplan om hom dood te maak.

19 Hulle het vir mekaar gesê: “Let op, die meester van drome kom!

20 Kom nou, laat ons hom doodmaak en in een van die putte gooi en ons sal sê: “’n Wilde dier het hom opgeëet’ en ons sal sien wat van sy drome word.”

21 Re’uven het dit gehoor en hy het hom uit hulle hand gered deur te sê: “Laat ons hom nie doodslaan nie.”

22 Re’uven het ook vir hulle gesê: “Moenie bloed vergiet nie; gooi hom in hierdie put wat in die wildernis is, maar moenie die hand aan hom slaan nie” sodat hy hom uit hulle hand kon red om hom na sy vader terug te bring.

23 Dit het so gebeur dat toe Yosef by sy broers kom, hulle Yosef se kleed uitgetrek het; die lang kleed met lang moue wat hy aangehad het;

24 hom gevat en in die put gegooi het. Die put was leeg; daar was geen water in nie.

25 Hulle het gaan sit om brood te eet en hulle het hulle oë opgelig en let op, hulle het ’n karavaan Arabiere gesien wat uit Gil’ad kom; hulle kamele gelaai met aromatiese gom, balsem en mirre op pad om dit af te vat na Mitzrayim.

26 Toe sê Y’hudah vir sy broers: “Watter voordeel is daar as ons ons broer doodmaak en sy bloed wegsteek?

27 Kom, laat ons hom aan die Yishma’eliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees.” Sy broers het saamgestem.

28 Toe die Midyanitiese handelaars verbykom, het hulle Yosef opgetrek en uit die put uitgehaal en Yosef aan die Arabiere verkoop vir twintig stukke silwer. Húlle het Yosef na Mitzrayim gevat.

29 Re’uven het by die put teruggekom en let op, Yosef was nie in die put nie en hy het sy klere geskeur

30 en na sy broers toe teruggegaan en gesê: “Die seun is nie meer daar nie en ek, waar moet ek heen?”

31 Hulle het Yosef se kleed gevat, ’n boklam geslag, die kleed in die bloed gedruk

32 en die lang kleed met lang moue weggestuur en na hulle vader laat bring met die woorde: “Dit het ons gekry. Kyk asseblief goed of dit die kleed van u seun is of nie.”

33 Hy het dit herken en gesê: “Dit is my seun se kleed! ’n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Yosef!”

34 Ya’akov het sy klere geskeur en ’n sak aangetrek om sy heupe en hy het baie dae lank oor sy seun gerou.

35 Al sy seuns en al sy dogters het opgestaan om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: “Nee, treurende sal ek na my seun in Sh’ol afdaal!” So het sy vader oor hom gehuil.

36 Die Midyaniete het hom in Mitzrayim verkoop aan Potifar, ’n offisier van Farao, die bevelvoerder van die wag.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50