Genesis 41 PWL

1 Dit het gebeur dat Farao twee jaar later gedroom het: let op, hy staan by die rivier

2 en let op, daar kom sewe koeie uit die rivier uit op wat mooi is om na te kyk en vet van vleis was en hulle het gaan wei in die vleigras.

3 Let op, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die rivier uit op wat lelik was om na te kyk en maer van vleis was en hulle het by die ander koeie op die wal van die rivier gaan staan.

4 Die koeie wat lelik was om na te kyk en maer van vleis was, het die sewe koeie wat mooi was om na te kyk en vet was, opgeëet. Toe het Farao wakker geword.

5 Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom en let op: sewe vet en mooi are skiet op aan een steel

6 en let op, ná hulle spruit daar sewe are uit wat maer en deur die oostewind verskroei is.

7 Die maer are het die sewe vet en vol are verslind. Toe het Farao wakker geword en kyk, dit was ’n droom!

8 Dié oggend was sy gees omgekrap en hy het gestuur en al die astroloë en al die geleerde manne van Mitzrayim laat roep en Farao het aan hulle sy drome vertel, maar nie een kon dit aan Farao uitlê nie.

9 Toe het die hoof van die skinkers met Farao gepraat en gesê: “Ek onthou my oortredinge op hierdie dag.

10 Toe Farao kwaad was vir sy diensknegte en my in bewaring gesit het in die huis van die bevelvoerder van die lyfwag, vir my en die hoof van die bakkers,

11 het ons elkeen in dieselfde nag ’n droom gehad, ek en hy; ons het elkeen ’n droom gedroom met sy eie betekenis.

12 Daar was by ons ’n Hebreeuse jongman, ’n kneg van die bevelvoerder van die lyfwag en ons het dit aan hom vertel en hy het ons drome vir ons uitgelê; aan elkeen het hy uitgelê volgens sy droom.

13 Dit het gebeur nét soos hy dit vir ons uitgelê het, só het dit gebeur; vir my het hy in my posisie herstel, maar hom opgehang.”

14 Toe het Farao gestuur en Yosef laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk uitgehaal en hy het hom geskeer en ander klere aangetrek en na Farao toe gekom.

15 Farao sê vir Yosef: “Ek het ’n droom gehad en daar is niemand wat dit kan uitlê nie, maar ek het gehoor daar is van jou gesê dat jy ’n droom kan verstaan om dit uit te lê.”

16 Yosef antwoord Farao en sê: “Dink u dat dit moontlik is dat ek sonder God vir Farao ’n antwoord van vrede, voorspoed en gesondheid kan gee?”

17 Farao sê vir Yosef: “Let op, in my droom staan ek op die wal van die rivier

18 en let op, daar kom sewe koeie uit die rivier uit op wat mooi is om na te kyk en vet van vleis was en hulle het gaan wei in die vleigras.

19 Let op, ná hulle kom daar nog sewe koeie uit die rivier uit op wat lelik was om na te kyk en maer van vleis was; so sleg soos ek in die ganse Mitzrayim nog nooit gesien het nie.

20 Die maer en lelike koeie het die eerste sewe vet koeie opgeëet

21 en nadat dit in hulle maag ingegaan het, kon ’n mens nie sien dat hulle in hul maag ingegaan het nie, want hulle het net so lelik gelyk soos in die begin. Toe word ek wakker.

22 Ek het ook in my droom gesien; let op, sewe vol en mooi are skiet op aan een steel

23 en let op, ná hulle spruit daar sewe are uit wat verdor, maer en deur die oostewind verskroei was

24 en die sewe maer are het die sewe mooi are verslind. Ek het dit aan die astroloë vertel, maar niemand kon dit vir my vertolk nie.”

25 Yosef sê vir Farao: “Die drome van Farao is een. God het vir Farao gewys wat Hy op die punt staan om te doen.

26 Die sewe mooi koeie is sewe jare en die sewe mooi are is sewe jare; die drome is een.

27 Die sewe maer en lelike koeie wat ná hulle opgekom het, is sewe jare en die sewe maer, deur die oostewind verskroeide are is sewe jare van hongersnood.”

28 Dit is wat ek vir Farao gesê het: “God het vir Farao gewys wat Hy op die punt staan om te doen.

29 Let op, daar kom sewe jare van groot oorvloed in die hele land van Mitzrayim

30 en daarna sal sewe jare van hongersnood aanbreek en al die oorvloed sal in Mitzrayim vergeet word en die hongersnood sal die land vernietig.

31 Die oorvloed sal nie in die land opgemerk word weens die hongersnood wat daarna sal volg nie, want dit sal baie swaar wees.

32 Die droom is twee maal vir Farao herhaal omdat die saak deur God besluit is en God sal dit gou laat gebeur.

33 Laat Farao daarom soek na ’n onderskeidende en wyse man en hom aanstel oor die land van Mitzrayim.

34 Laat Farao so maak en opsigters oor die land aanstel om in die sewe jare van oorvloed ’n vyfde deel van die opbrengs van Mitzrayim bymekaar te maak

35 en hulle moet al die kos wat van hierdie goeie jare af inkom bymekaarmaak en onder leiding van Farao graan stoor as kos in die stede en dit bewaak.

36 Die kos sal ’n reserwe wees vir die land vir die sewe jare van hongersnood wat in Mitzrayim sal kom sodat die land nie deur die hongersnood vernietig sal word nie.”

37 Die boodskap was goed in die oë van Farao en van al sy diensknegte.

38 Farao het aan sy diensknegte gesê: “Kan ons iemand soos hierdie vind; ’n man in wie die Gees van God is?”Yog 14:17

39 Farao sê vir Yosef: “Aangesien God dit alles aan jou bekend gemaak het, is daar niemand so onderskeidend en wys soos jy nie.

40 Jy sal oor my huis wees en my hele volk sal regeer word volgens jou bevel; alleen aangaande die troon sal ek groter wees as jy.”

41 Farao het ook vir Yosef gesê: “Let op, ek het jou aangestel oor die hele land van Mitzrayim.”Hand 7:10

42 Farao trek sy seëlring van sy hand af en sit dit aan die hand van Yosef en hy het hom in fyn linne klere aangetrek en ’n goue ketting om sy nek gehang

43 en hom laat ry op sy tweede strydwa en hulle het voor hom uitgeroep: “Buig neer!” So het hy hom oor die hele land van Mitzrayim aangestel.

44 Farao sê vir Yosef: “Ek is Farao en sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Mitzrayim oplig nie.”

45 Farao het Yosef Tzafnat-Pa’neag genoem en aan hom Asnat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, as vrou gegee. Yosef het uitgegaan oor die hele Mitzrayim.

46 Yosef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Mitzrayim, gestaan het en Yosef het van Farao af weggegaan en die hele Mitzrayim deurreis.

47 In die sewe jaar van oorvloed het die land by die handevol opgelewer.

48 Hy het al die kos van die sewe jaar wat in Mitzrayim gekom het bymekaar gemaak en kos in die stede gestoor; die kos van die land wat rondom elke stad was, het hy daarin gestoor.

49 Yosef het ’n baie groot hoeveelheid graan bymekaar gemaak; soos die sand van die see totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was sonder getal.

50 Vir Yosef is twee seuns deur Asnat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, gebore voordat die jaar van hongersnood gekom het.

51 Yosef het die eersgeborene M’nasheh genoem, want, het hy gesê: “God het my al my harde werk en die hele huis van my vader laat vergeet.”

52 Die naam van die tweede het hy Efrayim genoem, want, het hy gesê: “God het my vrugbaar gemaak in die land van my onderdrukking.”

53 Die sewe jaar van oorvloed wat daar in Mitzrayim was, het geëindig

54 en die sewe jaar van hongersnood het begin kom soos Yosef gesê het en daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Mitzrayim was daar brood.Hand 7:11

55 Toe die hele Mitzrayim honger geword het en die volk na Farao geroep het om brood, sê Farao aan al die mense van Mitzrayim: “Gaan na Yosef, doen wat ook al hy sê.”

56 Die hongersnood was oor die hele oppervlakte van die aarde en Yosef het al die stoorkamers oopgemaak en aan die Mitzrayiete verkoop en die hongersnood het swaar geword in Mitzrayim.

57 Die hele wêreld het na Yosef in Mitzrayim gekom om graan te koop, want die hongersnood was swaar op die hele aarde.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50