Genesis 44 PWL

1 Hy het opdrag gegee aan die opsigter oor sy huis en gesê: “Maak die sakke van die manne vol met kos, soveel as wat hulle kan vervoer en sit elkeen se geld in die bek van sy sak

2 en my beker, die silwer beker, in die jongste se sak saam met die geld vir sy graan.” Hy het gedoen volgens die woord wat Yosef gesê het.

3 Sodra die oggend gebreek het, is die manne weggestuur, hulle en hulle donkies.

4 Toe hulle uit die stad uitgetrek het en nog nie ver weg was nie, het Yosef vir die opsigter oor sy huis gesê: “Staan op en jaag die manne agterna en as jy hulle inhaal, vra hulle: ‘Waarom het julle boosheid vir die goeie terugbetaal?

5 Is dit nie die een waaruit my meester drink en waarmee hy altyd voorspel nie? Julle het boos gehandel met wat julle gedoen het.’”

6 Hy het hulle ingehaal en hierdie selfde woorde met hulle gepraat.

7 Hulle sê vir hom: “Waarom praat meneer sulke woorde? Dit is ver van u diensknegte om so iets te doen.

8 Let op, geld wat ons bo in ons sakke gekry het, het ons uit die land Kena’an aan u teruggebring; hoe sou ons dan silwer of goud uit die huis van u meester kan steel?

9 By wie ook al van u diensknegte dit gekry word, laat hom sterf en ons sal ook my meester se slawe wees.”

10 Hy sê: “Nou laat dit ook wees soos julle gesê het. Dié een by wie dit gekry word, sal my slaaf wees en júlle sal onskuldig wees.”

11 Elke man het gou gemaak en sy sak op die grond neergesit en elkeen het sy sak oopgemaak.

12 Hy het gesoek; hy het begin by die oudste en klaar gemaak by die jongste en die beker is in Binyamin se sak gekry.

13 Toe skeur hulle hul klere en elke man het sy donkie gelaai en teruggegaan na die stad toe.

14 Y’hudah en sy broers het in die huis van Yosef gekom en hy was nog daar en hulle het voor hom neergeval met hulle gesigte teen die grond.

15 Yosef sê vir hulle: “Watter daad is dit wat julle nou gedoen het? Weet julle nie dat ’n man soos ek dit ongetwyfeld vooruit kan sien nie?”

16 Y’hudah antwoord: “Wat sal ons vir my meester sê? Wat kan ons sê en waarmee kan ons onsself regverdig? God het die sonde van u diensknegte uitgevind. Let op, ons is my meester se slawe, ons sowel as hy by wie die beker gekry is.”

17 Hy sê: “Dit is ver van my om so te doen; die man in wie se hand die beker gekry is, dié sal my slaaf wees en vir julle: gaan in vrede op na julle vader toe.”

18 Toe kom Y’hudah nader na hom toe en sê: “O, my meester, laat u dienskneg asseblief ’n woord praat in die ore van my meester en laat u toorn nie teen u dienskneg ontvlam nie, want u is self soos Farao.

19 My meester het sy diensknegte gevra en gesê: ‘Het julle ’n vader of broer?’

20 Ons het my meester geantwoord: ‘Ons het ’n vader, ’n ou man en ’n seun uit sy hoë ouderdom, wat jonk is; sy broer is dood en hy het alleen oorgebly van sy moeder en sy vader het hom lief.’

21 U het aan u diensknegte gesê: ‘Bring hom af na my toe dat ek my oog op hom kan rig.’

22 Ons het my meester geantwoord: ‘Die jongman kan nie sy vader verlaat nie, want sy vader sal sterf as hy hom verlaat.’

23 U het egter aan u diensknegte gesê: ‘As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my gesig nie weer sien nie.’

24 Dit het gebeur dat, toe ons na u dienskneg, my vader, opgegaan het, ons aan hom die woorde van my meester vertel het.

25 Ons vader het gesê: ‘Gaan terug en koop vir ons ’n bietjie kos.’

26 Ons het gesê: ‘Ons kan nie afgaan nie. As ons jongste broer by ons is, dan sal ons afgaan, want ons mag die gesig van die man nie sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’

27 U dienskneg, my vader, het aan ons gesê: ‘Júlle weet dat my vrou aan twee geboorte gegee het vir my;

28 die een het van my af weggegaan en ek het gesê: ‘Verskeur, verskeur!’ Ek het hom sedertdien nie gesien nie.

29 As julle nou hierdie een ook van my af wegvat en hy kom iets oor, dan sal julle my grys hare met smart na Sh’ol afvat.’

30 As ek daarom nou by u dienskneg, my vader, kom en die jongman is nie by ons nie terwyl sy lewe innig aan sy lewe vasgekleef is,

31 sal dit gebeur, as hy sien dat die jongman nie daar is nie, dat hy sal sterf en u diensknegte sal die grys hare van u dienskneg, ons vader, met smart in Sh’ol laat afgaan,

32 want u dienskneg het borg gestaan by my vader vir die jongman deurdat hy gesê het: ‘As ek hom nie na u toe terugbring nie, sal ek vir ewig die skuld teenoor my vader dra.’

33 Laat u dienskneg daarom nou asseblief in die plek van die jongman my meester se slaaf bly en laat die seun saam met sy broers opgaan,

34 want hoe kan ek na my vader opgaan as die jongman nie by my is nie sodat ek net nie die bose sien wat oor my vader sal kom nie?”

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50