1 Ya’akov het sy oë opgelig en gesien dat `Esav aankom en let op, vier honderd man saam met hom en hy het die seuns onder Le’ah, Ragel en die twee slavinne verdeel.
2 Hy het die slavinne met hulle kinders voor, Le’ah met haar kinders agter hulle en Ragel en Yosef laaste gesit,
3 maar hy self het voor hulle uit oorgegaan en sewe maal met sy gesig op die grond gaan lê totdat hy by sy broer gekom het.
4 `Esav het hom tegemoet gehardloop, hom vasgehou en hom om die nek geval en hom gesoen en hulle het gehuil.
5 Hy het sy oë opgelig, die vroue en kinders gesien en gesê: “Wie is hierdie by jou?” Hy antwoord: “Die kinders wat God uit onverdiende guns aan u dienskneg gegee het.”
6 Die slavinne het nader gekom, hulle en hulle kinders en gebuig.
7 Le’ah het ook nader gekom met haar kinders en gebuig en daarna het Yosef en Ragel nader gekom en gebuig.
8 Hy sê: “Wat is jou bedoeling met al hierdie kampe wat ek teëgekom het?” Hy antwoord: “Om guns te vind in die oë van my meester.”
9 `Esav sê egter: “Ek het oorvloed, my broer! Hou wat jy het vir jouself!”
10 Ya’akov antwoord: “Nee, asseblief, as ek guns in u oë gevind het, ontvang die geskenk uit my hand, want ek het nou u gesig gesien asof ek die gesig van God gesien het en u was tevrede met my.
11 Aanvaar asseblief die seëning van my wat vir u gebring is, want God het my onverdiende guns bewys en ek het alles wat ek nodig het.” Hy het by hom aangehou en hy het dit aanvaar.
12 Hy sê toe: “Laat ons opbreek en vertrek en ek sal voor jou gaan.”
13 Hy antwoord hom: “My meester weet dat die kinders swak is en dat ek lammers en kalwers wat drink by my het; as die manne hulle een dag hard sou dryf sou die hele trop vrek.
14 My meester moet asseblief voor sy dienskneg uittrek. Ek sal rustig gaan volgens die pas van die vee wat voor my uitgaan en volgens die voete van die kinders, tot ek by my meester in Se’ir aankom.”
15 `Esav sê: “Laat my nou van die mense wat by my is, by jou los.” Hy antwoord: “Waarvoor dan? Laat my guns in die oë van my meester vind!”
16 So het `Esav dan dié dag teruggegaan op sy pad na Se’ir.
17 Ya’akov het na Sukkot weggetrek, vir hom ’n huis gebou en skuilings vir sy vee gemaak; daarom het hy die plek Sukkot genoem.
18 Ya’akov het in vrede aangekom by die stad Sh’khem wat in die land Kena’an is, toe hy van Paddan-Aram af gekom het en hy het sy tent voor die stad opgeslaan
19 en die stuk grond, waar hy sy tent opgeslaan het, gekoop van die seuns van Hamor, die vader van Sh’khem, vir honderd geldstukke.
20 Hy het ook ’n altaar daar opgerig en dit El-Elohei Yisra’el (Die Magtige God van Yisra’el is God) genoem.