1 Yosef het op sy vader se gesig geval en oor hom gehuil en hom gesoen.
2 Yosef het aan sy diensknegte, die geneeshere, bevel gegee om sy vader te balsem en die geneeshere het Yisra’el gebalsem.
3 Veertig dae is vir hom voltooi, want dit is die dae wat voltooi word vir die wat gebalsem word. Die Mitzrayiete het sewentig dae lank oor hom gehuil.
4 Toe die dae van huil oor hom verby was, het Yosef met die huis van Farao gepraat en gesê: “As ek nou guns in julle oë gevind het, sê dit asseblief voor die ore van Farao:
5 My vader het my laat sweer en gesê: ‘Let op, ek gaan sterf; in my graf wat ek vir my in die land Kena’an uitgekap het, daar moet jy my begrawe.’ Laat my nou asseblief opgaan en my vader begrawe en terugkom.”
6 Farao sê: “Gaan op en begrawe jou vader soos hy jou laat sweer het.”
7 Toe het Yosef opgegaan om sy vader te begrawe en al die diensknegte van Farao, die oudstes van sy huis en al die oudstes van Mitzrayim het saam met hom opgegaan;
8 ook die hele huis van Yosef en sy broers en die huis van sy vader. Net hulle kinders, hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Goshen laat agterbly.
9 Saam met hom het strydwaens en ruiters opgegaan en dit was ’n baie groot trek.
10 Toe hulle by die dorsvloer van Atad kom, wat anderkant die Yarden lê, het hulle daar ’n groot en baie pynlike rouklag gehou. Hy het dat hulle sewe dae oor sy vader rou.
11 Toe die inwoners van die land, die Kena’aniete, die roubedryf by die dorsvloer van Atad sien, sê hulle: “Dit is ’n hartseer rou vir die Mitzrayiete.” Hulle het dit daarom Avel-Mizrayim genoem, wat aan die anderkant van die Yarden lê.
12 So het sy seuns vir hom gedoen net soos hy hulle beveel het:
13 sy seuns het hom weggebring na die land Kena’an en hom begrawe in die grot in die veld van Makhpelah, die stuk grond voor Mamre wat Avraham van `Efron, die Hettiet as eiendom vir ’n graf gekoop het.
14 Nadat hy sy vader begrawe het, het Yosef na Mitzrayim teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgegaan het.
15 Toe die broers van Yosef sien dat hulle vader dood is, het hulle gesê: “Miskien sal Yosef ’n wrok teen ons hou en teruggaan en ons terugbetaal vir al die boosheid wat ons hom aangedoen het!”
16 Hulle stuur daarom ’n boodskapper na Yosef en sê: “Voordat u vader dood is, het hy bevel gegee met hierdie woorde:
17 ‘So moet julle vir Yosef sê: “Asseblief, ek smeek jou, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het boosheid aan jou gedoen.” Nou, asseblief vergewe die oortreding van die diensknegte van die God van u vader.” Yosef het gehuil toe hulle met hom praat.
18 Sy broers het ook self gegaan en voor hom op hulle gesigte neergeval en gesê: “Let op, ons is u slawe.”
19 Yosef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie, want ek is ’n dienskneg van God.
20 Wat júlle betref: julle het wel boosheid teen my bedink, maar God het dit ten goede beplan om te doen soos dit vandag is, om baie mense te red tot die lewe.
21 Wees daarom nou nie bang nie: ék sal vir julle en julle kinders sorg.” So het hy hulle dan getroos en met hulle binneste gepraat.
22 Yosef het in Mitzrayim gebly, hy en die huis van sy vader. Yosef het honderd en tien jaar geleef.
23 Yosef het van Efrayim seuns gesien tot in die derde geslag. Ook die kinders van Makhir, die seun van M’nasheh, is op Yosef se knieë gebore.
24 Yosef sê aan sy broers: “Ek is sterwend, maar God sal julle onthou en julle hier uitbring na die land wat Hy aan Avraham, Yitz’gak en Ya’akov met ’n eed beloof het.”
25 Yosef het die seuns van Yisra’el laat sweer en gesê: “God sal julle onthou om julle te besoek en julle sal my bene opdra van hier.”
26 Yosef is dood, honderd en tien jaar oud en hulle het hom gebalsem en in ’n kis gesit in Mitzrayim.