1 Yosef het gekom en aan Farao verslag gegee en gesê: “My vader en my broers en hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het gekom uit die land Kena’an en let op, hulle is nou in die land Goshen.”
2 Hy het vyf man vanuit sy broers saamgevat en hulle aan Farao voorgestel.
3 Farao sê vir sy broers: “Wat is julle beroep?” Hulle antwoord Farao: “U diensknegte is herders van kleinvee, ons, sowel as ons vaders.”
4 Hulle sê ook vir Farao: “Ons het gekom om as besoekers in die land te bly, want u diensknegte het geen weiding vir hulle kleinvee nie omdat die hongersnood in die land Kena’an swaar is; daarom nou, laat asseblief u diensknegte in die land Goshen woon.”
5 Farao het met Yosef gepraat en gesê: “Jou vader en jou broers het na jou toe gekom.
6 Mitzrayim lê voor jou oop; laat jou vader en jou broers in die beste deel van die land bly; laat hulle in die land Goshen bly. As jy enige manne onder hulle ken wat die vermoë het, stel hulle dan aan as hoof herders oor my vee.”
7 Yosef bring sy vader Ya’akov in en stel hom aan Farao voor. Ya’akov het Farao geseën.
8 Farao sê vir Ya’akov: “Hoeveel is die dae van jou lewensjare?”
9 Ya’akov het Farao geantwoord: “Die dae van die jare van my verblyf as besoeker is honderd en dertig jaar. Min in getal en vol boosheid was die dae van my lewensjare en hulle het nie die dae van die lewensjare van my vaders, gedurende die dae van hulle verblyf as besoekers, bereik nie.”Lev 25:23
10 Ya’akov het Farao geseën en van Farao af weggegaan.
11 Yosef het Ya’akov en sy broers gevestig en vir hulle land gegee in Mitzrayim, in die beste deel van die land, in die landstreek Ra’amses, soos Farao beveel het.
12 Yosef het sy vader en sy broers en die hele huis van sy vader met kos onderhou, ooreenkomstig die monde van die kinders.
13 Daar was in die hele land geen brood nie, want die hongersnood was baie swaar sodat Mitzrayim en die land Kena’an swak geword het weens die hongersnood.
14 Yosef het, vir die koring wat hulle gekoop het, al die geld wat in Mitzrayim en in die land Kena’an te vinde was, bymekaar gemaak en Yosef het die geld in die paleis van Farao gebring.
15 Toe die geld in Mitzrayim en in die land Kena’an op was, het al die Mitzrayiete na Yosef gekom en gesê: “Gee vir ons brood, want waarom moet ons voor u oë sterf, want die geld is op?”
16 Yosef antwoord: “Gee julle vee, dan sal ek vir julle brood gee vir die vee as die geld op is.”
17 Toe bring hulle hul vee na Yosef toe en Yosef het vir hulle brood gegee vir die perde, die kleinvee, die beeste van die troppe en vir die donkies en hy het hulle dié jaar gevoed met brood vir die waarde van al hulle vee.
18 Toe dié jaar verby was, het hulle na hom gekom in die volgende jaar en vir hom gesê: “Ons kan dit nie vir my meester wegsteek nie, maar die geld is op en my meester het ons vee en beeste. Daar het niks voor my meester oorgebly nie as net ons liggame en ons grond.
19 Waarom moet ons voor u oë doodgaan, ons sowel as ons grond? Koop ons en ons grond vir brood, dan sal ons met ons grond vir Farao dien en gee vir ons saad dat ons kan leef en nie sterf nie en dat die grond nie verlate word nie.”
20 Yosef het al die grond van Mitzrayim vir Farao opgekoop, want die Mitzrayiete het elkeen sy stuk grond verkoop omdat die hongersnood vir hulle te swaar was. So het die land, Farao se eiendom geword.
21 Wat die volk betref; hy het hulle laat verhuis na die stede, van die een grens van Mitzrayim tot by die ander grens.
22 Net die grond van die priesters het hy nie gekoop nie, want die priesters het ’n deel wat deur Farao voorgeskryf was, ontvang en hulle het hulle voorgeskrewe deel geëet wat Farao vir hulle gegee het; daarom het hulle hul grond nie verkoop nie.
23 Toe sê Yosef vir die volk: “Let op, ek het julle en jul grond vandag vir Farao gekoop: let op, hier is saad vir julle, julle moet die grond besaai
24 en dit sal wees dat by die insameling, julle ’n vyfde deel aan Farao moet afgee en die ander vier dele sal julle eiendom wees as saad vir die land, as voedsel vir julleself en vir die wat in julle huise is en as kos vir julle kinders.
25 Hulle antwoord: “U het ons lewe gered. Laat ons guns vind in die oë van my meester, dan sal ons diensknegte van Farao wees.
26 Yosef het dit ’n wet gemaak vir die land van Mitzrayim tot vandag toe; ’n vyfde deel behoort aan Farao. Net die grond van die priesters alleen het nie die eiendom van Farao geword nie.
27 Yisra’el het in Mitzrayim gebly, in die land Goshen en hulle het gebly op grond wat hulle besit het en gegroei en uitermate vermeerder.
28 Ya’akov het sewentien jaar in Mitzrayim gelewe sodat die dae van Ya’akov, die jare van sy lewe, honderd sewe en veertig jaar was.
29 Die tyd van Yisra’el om dood te gaan het nader gekom en hy het sy seun Yosef laat roep en vir hom gesê: “As ek nou guns in jou oë gevind het, sit asseblief jou hand onder my dy en bewys vir my omgee en waarheid; moet my asseblief nie in Mitzrayim begrawe nie,
30 maar laat my by my vaders lê. Jy sal my uit Mitzrayim uitdra en my in hulle grafte begrawe.” Hy antwoord: “Ek sal doen soos u gesê het.”
31 Hy sê: “Sweer dit vir my.” Hy het dit vir hom gesweer. Yisra’el het in aanbidding plat gaan lê oor die kop van die bed.