Genesis 43 PWL

1 Die hongersnood was swaar in die land.

2 Dit het gebeur dat toe die graan wat hulle uit Mitzrayim gebring het, opgeëet was, hulle vader vir hulle sê: “Gaan terug en koop vir ons ’n bietjie kos.”

3 Y’hudah het met hom gepraat en gesê: “Die man het ons ernstig gewaarsku en gesê: “Julle sal my gesig nie sien as julle broer nie by julle is nie.

4 As u ons broer saam met ons stuur, sal ons afgaan en vir u kos gaan koop,

5 maar as u hom nie wil stuur nie, sal ons nie afgaan nie, want die man het vir ons gesê: ‘Julle sal my gesig nie sien as julle broer nie by julle is nie’.”

6 Yisra’el sê: “Waarom het julle so boos teenoor my opgetree deur die man te vertel dat julle nog ’n broer het?”

7 Hulle antwoord: “Die man het reguit uitgevra na ons en ons familie met die woorde: ‘Lewe julle vader nog? Het julle nog ’n broer?’ Ons het dit met ons mond bevestig. Kon ons enigsins weet dat hy sou sê: ‘Bring julle broer af’?”

8 Y’hudah sê aan sy vader Yisra’el: “Stuur die jongman saam met my; dan sal ons opstaan en gaan sodat ons kan leef en nie sterf nie; nie ons nie en ook nie u en ons kinders nie.

9 Ek sal self vir hom borg wees; van my hand sal u hom eis. As ek hom nie na u bring en voor u stel nie, sal ek vir ewig die skuld dra,

10 want as ons nie uitgestel het nie, sou ons sekerlik nou al twee maal terug kon gewees het.”

11 Yisra’el, hulle vader, het vir hulle gesê: “As dit so moet wees, doen dan dít: vat van die beste vrugte van die land in julle sakke en bring vir die man ’n geskenk; ’n bietjie balsem en bietjie heuning, speserye en mirre, neute en amandels

12 en vat dubbel soveel geld in julle hand en vat die geld wat weer bo in julle sakke gesit is, in julle hand terug. Miskien was dit ’n fout.

13 Vat ook julle broer; staan op en gaan terug na die man

14 en mag El-Shaddai (Die Magtige God wat meer as genoeg is) vir julle omgee gee by die man sodat hy julle ander broer en Binyamin vry kan laat! Ek: as my kinders weggevat is, dan is my kinders weggevat.”

15 So het die manne dié geskenk, dubbel soveel geld in hulle hand en ook Binyamin saam met hulle gevat en hulle het opgestaan en na Mitzrayim afgegaan en voor Yosef gaan staan.

16 Toe Yosef Binyamin by hulle sien, sê hy aan die opsigter oor sy huis: “Bring die manne na my huis en slag ’n dier en maak dit gereed, want die manne sal vanmiddag saam met my eet.”

17 Die man het gedoen soos Yosef beveel het en die man het die manne in die huis van Yosef gebring.

18 Die manne was bang omdat hulle in die huis van Yosef gebring is en het gesê: “Dit is as gevolg van die geld wat die eerste keer in ons sakke teruggekom het dat ons ingebring is om ons te oorrompel, ons te oorval en ons as slawe te vat, saam met ons donkies.”

19 Hulle het nader gekom na die opsiener oor die huis van Yosef en met hom gepraat by die ingang van die huis

20 en gesê: “Ag, meneer, ons het werklik die eerste keer afgetrek om kos te koop,

21 maar dit het gebeur dat toe ons in die herberg kom, ons ons sakke oopgemaak het en let op, elkeen se geld was bo in sy sak; ons geld in sy volle gewig en ons het dit in ons hand teruggebring.

22 Ons het ook ander geld in ons hand afgebring om kos te koop. Ons weet nie wie ons geld in ons sakke gesit het nie.”

23 Hy antwoord: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid vir julle! Moenie bang wees nie! Julle God en die God van julle vader het vir julle ’n skat in julle sakke gegee. Ek het julle geld gehad.” Hy het Shim’on na hulle toe uitgebring.

24 Die man het die manne in die huis van Yosef ingebring, vir hulle water gegee en hulle het hul voete gewas; hy het ook vir hulle donkies voer gegee.

25 Hulle het die geskenk reggemaak vir Yosef se koms die middag, want hulle het gehoor dat hulle daar brood sou eet.

26 Toe Yosef in die huis inkom, het hulle vir hom die geskenk ingebring wat in hulle hand was en op hulle gesigte op die grond voor hom neergeval.

27 Hy het hulle na hul welstand gevra en gesê: “Gaan dit goed met julle vader, die ou man waarvan julle gepraat het? Leef hy nog?”

28 Hulle antwoord: “U dienskneg, ons vader, is in goeie gesondheid; hy lewe nog” en hulle neergebuig na die grond toe.

29 Toe slaan hy sy oë op en sien sy broer Binyamin, die seun van sy moeder en sê: “Is dit julle jongste broer van wie julle met my gepraat het?” Hy sê ook: “God buk af na jou in guns, my seun!”

30 Yosef se binneste het verlang met omgee na sy broer en hy het gou gemaak om geleentheid te soek om te huil en hy het in sy kamer ingegaan en daar gehuil.

31 Hy het sy gesig gewas en uitgekom en homself beheer en gesê: “Bedien die kos!”

32 Toe bedien hulle hom afsonderlik en vir hulle afsonderlik en vir die Mitzrayiete wat by hom eet, afsonderlik, want die Mitzrayiete mag nie saam met die Hebreërs eet nie omdat dit vir die Mitzrayiete ’n gruwel is.

33 Hulle het gaan sit voor hom, die eersgeborene volgens sy geboortereg en die jongste na sy jonkheid en die manne was verstom teenoor mekaar.

34 Hy het vir hulle porsies gegee vanaf die kos voor hom, maar Binyamin se porsie was vyf maal groter as enige van hulle s’n. Hulle het gedrink en saam met hom vrolik geword.

hoofstukke

1 2 3 4 5 6 7 8 9 10 11 12 13 14 15 16 17 18 19 20 21 22 23 24 25 26 27 28 29 30 31 32 33 34 35 36 37 38 39 40 41 42 43 44 45 46 47 48 49 50