17 Hy sê: “Dit is ver van my om so te doen; die man in wie se hand die beker gekry is, dié sal my slaaf wees en vir julle: gaan in vrede op na julle vader toe.”
18 Toe kom Y’hudah nader na hom toe en sê: “O, my meester, laat u dienskneg asseblief ’n woord praat in die ore van my meester en laat u toorn nie teen u dienskneg ontvlam nie, want u is self soos Farao.
19 My meester het sy diensknegte gevra en gesê: ‘Het julle ’n vader of broer?’
20 Ons het my meester geantwoord: ‘Ons het ’n vader, ’n ou man en ’n seun uit sy hoë ouderdom, wat jonk is; sy broer is dood en hy het alleen oorgebly van sy moeder en sy vader het hom lief.’
21 U het aan u diensknegte gesê: ‘Bring hom af na my toe dat ek my oog op hom kan rig.’
22 Ons het my meester geantwoord: ‘Die jongman kan nie sy vader verlaat nie, want sy vader sal sterf as hy hom verlaat.’
23 U het egter aan u diensknegte gesê: ‘As julle jongste broer nie saam met julle afkom nie, sal julle my gesig nie weer sien nie.’