18 Kom ons handel dié saak nou af, sê die Here. Dit maak nie saak hoe diep die vlekke van julle sonde is nie, Ek kan dit skoonmaak. Al was julle bloedrooi gevlek van die sonde, kan Ek dit wegwas en julle so wit laat word soos sneeu wat nou net geval het. Selfs al is die vlekke van julle sonde purperrooi, sal Ek julle skoonmaak sodat julle so wit soos splinternuwe wol sal lyk.
19 As julle na My wil luister en My toelaat om julle te help, sal julle ’n goeie bestaan in hierdie land kan maak,
20 maar as julle weier en aanhou rebelleer, staar julle oorlog in die gesig. Dit is wat die Here gesê het.
21 Jerusalem, hoe het jy nie verander nie! Die stad wat eens op ’n tyd getrou was aan die Here het soos ’n ontrou straatvrou geword wat agter ander mans aanloop. Daar was ’n tyd dat jy ’n plek was waarin eerlike en ordentlike mense gebly het, maar jy het nou ontaard in ’n wegkruipplek vir moordenaars.
22 Eens op ’n tyd was jy soos egte silwer, so mooi en so skoon, maar nou het jy soos ’n stuk nuttelose lood geword, soos goeie wyn wat met water verdun is en na niks smaak nie.
23 Jou leiers is oproermakers, hulle grootste vriende is skelms, want hulle is almal korrup en alte lief vir omkoopgeskenke. Maar as dit by die weeskinders en die weduwees kom wat gehelp moet word, wil hulle niks met die saak te doen hê nie.
24 Daarom sê die Here, die magtige God van Israel wat seggenskap het oor alles: Ek sal met julle, my vyande, afreken sodat julle My nie verder kan pla nie.