1 Nie te lank na hierdie gebeure nie het koning Merodak-Baladan, die nuwe koning van Babel, ’n paar van sy amptenare na Hiskia toe gestuur met briewe en geskenke. Hy het dit gedoen nadat hy van Hiskia se siekte gehoor het en hoe hy gesond geword het.
2 Hiskia was baie beïndruk met die besoekers en hy het hulle oral rondgevat en by hulle gespog met al sy geld en besittings en ook met sy militêre mag. Daar was nie ’n plek in sy koninkryk wat hy nie vir hulle gewys het nie.
3 Jesaja het toe met Hiskia gaan praat en vir hom gevra: “Wie is die mense en wat het jy alles vir hulle gesê?”“Hulle kom van ’n baie ver plek af,” was Hiskia se antwoord, “van Babel af.”
4 “Wat het hulle alles in jou paleis gesien?” wou Jesaja weet.“Hulle het alles gesien,” het Hiskia geantwoord, “ek het nie ’n enkele ding vir hulle weggesteek nie.”
5 “Nou luister,” sê Jesaja toe vir hom, “hoor ’n bietjie wat die Here hieroor te sê het:
6 Daar kom ’n tyd dat al jou besittings en alles wat jou voorgangers bymekaargemaak het, na Babel toe weggedra gaan word. Daar sal net mooi niks hier oorbly nie.
7 Van jou eie seuns wat hier prinse is, sal ook in ballingskap weggevoer word en hulle sal gedwing word om as paleishulpe vir die koning van Babel te werk.”
8 Hiskia het die boodskap verkeerd verstaan en daarom het hy vir Jesaja gesê: “Dit is goed so! Ten minste sal daar in my leeftyd vrede en veiligheid vir die land wees.”