1 Die ongeluk gaan julle tref, julle wat al hierdie onregverdige wette en nuwe regulasies maak om my mense te laat swaarkry.
2 Julle ontsê die armes en die weduwees en die weeskinders hulle regte en steel op hierdie oneerlike manier hulle laaste besittings.
3 Wat gaan julle doen die dag wanneer die Here ’n volk van ver af stuur om julle te kom straf? Na wie toe sal julle dan hardloop om julle te help, en waar gaan julle al julle rykdom wegsteek?
4 Een van twee dinge gaan met julle gebeur: julle sal óf tussen die krygsgevangenes voortstrompel óf tussen die lyke op die grond bly lê. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf.
5 Alhoewel Ek Assirië se militêre mag gebruik soos ’n stok waarmee Ek die volke kan slaan, wag daar vir hulle ook swaarkry omdat hulle die mag wat Ek hulle gegee het, misbruik het.
6 Ek het Assirië na my goddelose volk toe gestuur omdat Ek vir hulle kwaad was, met die opdrag om hulle te beroof en die mense soos modder in die strate te vertrap.
7 Maar die koning van Assirië het sy eie idees hieroor. Sy plan is om verwoesting te saai en baie nasies in die proses uit te roei.
8 Hy spog en sê: “Al my offisiere gaan nog konings word wat oor ’n gebied regeer wat ek verower het.
9 Die een hoofstad na die ander moes die knie voor my mag buig. Karkemis, Hamat, Arpad, Samaria en Damaskus, nie een van hulle kon weerstand bied nie.
10 Ek het lande ingeneem wat selfs nog meer afgode gedien het as Jerusalem en Samaria.
11 Ek het klaar met Samaria en sy gode afgereken, nou is dit Jerusalem en sy gode se beurt!”
12 Wat die koning van Assirië nie besef nie, is dat nadat die Here hom gebruik het om sy doel met Sion en Jerusalem te bereik, Hy teen hom gaan draai en hom gaan straf omdat hy so vol is van homself.
13 Want hy spog mos: “Ek het dit alles op my eie gedoen. Ek is sterk en slim en wêreldwys. Ek het volk na volk platgeloop, hulle voorrade geplunder en hulle mense soos ’n verwoede bul voor my weggestamp en platgetrap.
14 Die koninkryke van die wêreld was vir my soos ’n voëlnessie, ek het hulle rykdom so maklik by hulle afgevat as wat ’n mens eiers uit ’n nes uithaal. Soos ’n verskrikte voël het nie een van hierdie lande ’n vlerk geklap om my te probeer afskrik nie.”
15 Die Here vra egter: Kan ’n byl hom ooit verbeel dat hy belangriker is as die een wat met hom kap? Of kan ’n saag dink hy kan iets afsaag sonder die mens wat hom gebruik? Dis tog nie die lat wat die persoon wat dit opgetel het, rondswaai nie? Kan ’n kierie dalk op sy eie opstaan en loop?
16 Daarom gaan die Here die Almagtige die verwaande mense van Assirië laat krepeer van ellende en al die koning se skatte wat hy bymekaargemaak het, vernietig met ’n onblusbare vuur.
17 God, die Lig van Israel, sal die vuur wees, die heilige God van Israel is die vlam wat hulle onbelangrike mense, die dorings en die onkruid, in ’n oogwink tot as verbrand.
18 Ook Assirië se magtige leër, wat soos ’n magtige bos is wat op vrugbare grond geplant is, sal vernietig word. Die Here sal hulle laat agteruitgaan soos iemand wat deur ’n ongeneeslike siekte aangetas is.
19 Daar sal so min bome in hierdie magtige bos wat Assirië was, oorbly dat selfs ’n klein kindjie hulle sal kan tel.
20 In daardie tyd sal die klein groepie Israeliete wat uit die nageslag van Jakob oorgebly het, nie meer hulp gaan soek by Assirië wat hulle in die grond in vertrap het nie. Nou sal hulle net op die Here, die heilige God van Israel, vertrou.
21 ’n Klein groepie van die nageslag van Jakob sal na hulle magtige God toe terugkom.
22 Alhoewel die bevolking van Israel nou so baie is soos die sand van die see, sal net ’n klein groepie van hulle oorbly en terugkom na hulle land toe. Die Here het klaar besluit om hulle te vernietig en dit is hulle verdiende loon.
23 En dit wat die Here, die Almagtige, besluit het, doen Hy; Hy verander nie van plan nie.
24 Daarom, so sê die Here, die almagtige God, vir sy volk wat in Jerusalem woon: Moenie bang wees vir die Assiriërs nie, selfs al laat hulle julle swaarkry soos destyds toe julle slawe in Egipte was.
25 Dit sal nie te lank aanhou nie, en dan sal Ek al my woede op hulle uithaal en hulle vernietig.
26 Ek, die Here die Almagtige, sal hulle met ’n sweep slaan, soos toe Gideon die Midianiete by die rots van Oreb verslaan het. Ek sal hulle vernietig soos toe Ek die Egiptenaars in die see laat verdrink het toe Moses sy kierie uitgesteek het.
27 Daardie dag sal Ek julle uit die mag van Assirië bevry en die juk van slawerny wat so swaar op julle skouers druk heeltemal wegvat.
28 Kyk, hier kom die Assiriese leër aan! Hulle oorval Aja en Migron en bêre hulle voorrade in Mikmas.
29 Hulle trek oor die bergpas en slaap die nag in Geba. Daar is paniek in Rama, en in Saul se stad, Gibea, slaan die mense op die vlug.
30 Skree van vrees, inwoners van Gallim! Lajesa se inwoners hoor dit en weet wat kom. Die arme Anatot is volgende.
31 Die mense van Madema is aan die vlug en dié van Gebim soek wegkruipplek.
32 Die Assiriërs sal vandag nog in Nob kamp opslaan en van daar af bal hulle dreigend die vuis vir Sion, die berg waarop Jerusalem gebou is.
33 Maar dit is die Here, die almagtige God, wat Jerusalem sal laat omval soos ’n boom waarvan die takke met kragtige houe afgekap word. Hy sal die hoë bome afkap en hulle in die stof laat lê.
34 Die Here sal hulle uitkap soos mens ’n hele bos met ’n byl uitkap, selfs die Libanon se mooiste bome sal voor Hom val.